Lewendehawe-agente en -agentskappe het tyd tot einde Junie om die nodige infrastruktuur- en bedryfsaanpassings, asook die nodige aantekeningstelsels gereed te kry om aan die vereistes van die biosekerheidsreëls vir lewendehawe-agente te voldoen. Hierdie reëls is reeds verlede November deur die landbouprodukte-agenteraad (Apac) bekend gemaak. Dit is deur die Rooivleisprodusente-organisasie verwelkom.

Mnr. Francois Knowles, registrateur van Apac, sê die doel van die reëls is om ’n geouditeerde naspeurbaarheidstelsel te vestig en terselfdertyd die verspreiding van dieresiektes te beperk.

In ’n verklaring wat begin Januarie uitgereik is, sê hy Apac gaan die bedryf aanvanklik tegemoet kom om te verseker die nodige stelsels en infrastruktuur kom tot stand. “Ons het reeds ’n gunstige oudittarief met die Suid-Afrikaanse vleisbedryfmaatskappy (Samic) onderhandel. Ingevolge hierdie ooreenkoms sal Samic die oudits teen ongeveer R800 per oudit uitvoer. Elke veilingskraal moet twee maal ’n jaar geoudit word.

Behoud van marktoegang

“Die oudits is ’n uiters belangrike aspek van die aansien, sukses en volhoubaarheid van ons bedryf in die binneland, maar veral ook in die buiteland. Ons voer toenemend lewende hawe en vleisprodukte uit en die voortbestaan van ons bedryf hang van hierdie internasionale marktoegang af.

“Ons kan nie bekostig om weer ’n uitbreking van bek-en-klouseer of enige ander aanmeldbare siekte in die bedryf te hê nie. Hierdie nuwe stel reëls is dus gemik daarop om die plaaslike en internasionale vertroue in ons bedryf te versterk. Die oudits is die versekering dat hierdie reëls ordentlik toegepas word en dat ons stelsels betroubaar is.”

Verskeie veilingskrale het aangedui dat hulle wysigings aan hul stelsels en aanbouings aan infrastruktuur sal moet maak om aan die nuwe reëls gehoor te gee. Die reëls vereis onder meer dat lewende hawe ontvang moet word in ’n aparte area by die veilingskrale waar hulle deur veeartse ondersoek moet word en die naspeurbaarheid van die diere getoets sal word. Die grasietydperk van ses maande is toegestaan omdat dié geriewe by baie veilingskrale geskep moet word.

Die volledige biosekerheidsreëls is op die Nasionale Dieregesondheidsforum se webblad by bit.ly/35LI0SY beskikbaar.

Navrae: Francois Knowles, e-pos: Francois@apacouncil.co.za