“Streng protokolle sal in die toekoms op alle veilings van toepassing wees. Kommersiële én slagveeveilings sal al hoe meer gedigitaliseer word.

“Die nodigheid van ’n betrou­bare naspeurbaarheidstelsel is nie meer onderhandelbaar nie, maar sal ook met toepaslike wetgewing ondersteun moet word.”

BKB skep reeds geruime tyd geïntegreerde oplossings vir die veebedryf met die ontwikkeling van tegnologie om die totale veevoorsieningsketting te digitaliseer. “Ons doelwit is om meer slagvee in Suid-Afrika met dié veilingstelsel te bemark.”

Hy sê BKB is ’n voorstander van veilings as ’n deursigtige en betroubare prysmakende meganisme en sal dit ook in die digitale oplossings behou.

Hy sê sy maatskappy is wesenlik deur die verbod geraak – spesifiek ten opsigte van kalender- of vastepuntveilings wat weekliks reg oor die land gehou is. BKB het ongeveer R600 miljoen verloor. Produsente is ook wesenlik geraak, veral boere wat kleiner lotte verhandel, asook kleinboere wat diere na veilings bring.

Produksieveilings kon egter voortgaan. Volgens Oberholster is minder diere op die produksieveilings aangebied, met ooie wat goeie pryse behaal het in groot dele van die Oos-Kaap en die oostelike deel van die Karoo wat goeie reën gehad het.

Met die verbod wat opgehef is, sal meer diere op veilings aangebied word wat pryse effens onder druk kan plaas. Oberholster voorspel dat die pryse van vroulike diere danksy goeie reën in die noordelike deel van die land kan styg.