Hy het op Agri SA se kongres in Pretoria oor die belangrikheid van vennootskappe gepraat en boere aangemoedig om dit te oorweeg. “Boere is van nature onafhanklik en op hulself aangewese, vandaar die gesegde van ‘ ’n boer maak ’n plan’. Daarom kan ’n mens ook verstaan hoekom baie van hulle se oë rol as jy net praat oor vennootskappe.”

Hy meen die omvang van ’n boer se werk het net té veel geraak om nie van diensverskaffers van buite gebruik te maak nie. “Hulle moet veral horisontale vennootskappe oorweeg om byvoorbeeld marktoegang of vir goedkoper produksiemiddele te beding."

Vennootskappe tussen boere

Volgens Phoza is daar ook ’n dringende behoefte aan vennootskappe tussen ontwikkelende boere en gevestigde kommersiële boere: "Met 90% van grondhervormingsprojekte wat misluk, is dit van die grootste belang dat nuwe boere langtermynvennootskappe tot voordeel van almal met nuwe boere moet aangaan.”

Phosa sê ook alle partye het die steun van die Regering nodig. “Die Regering moet byvoorbeeld toegang tot buitelandse markte beding – boere kan dit nie op hul eie regkry nie. Dit is van deurslaggewende belang dat die Regering en boere hande moet vat.”

Die sleutelbeginsels waarop ’n vennootskap moet berus, sluit in goeie bestuur, deursigtigheid, gesamentlike besluitneming, gereelde gesprekvoering en soms die betrokkenheid van ’n onpartydige derde party.