Die proses, wat hopelik binnekort vir kommentaar gepubliseer gaan word, is goeie nuus vir boere wat nie aan die nasionale minimum loon sal kan voldoen nie. Volgens die Regering se beplanning sal dié loon op 1 Mei vanjaar (2018) in werking tree. 

Om die landbou te beskerm en werksverliese te voorkom, sal die sektor se minimum loon begin by 90% (dus R18) van die verpligte R20 per uur of R3 150 per maand. Dié loonstruktuur moet oor twee jaar ingefaseer word. 

Kwytskelding

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het aan die hoof gestaan van die ondersoek na die werkbaarheid van ’n minimum loon vir Suid-Afrika. Hy het reeds aangedui dat ondernemings wat nie kan bekostig om die nasionale loon te betaal nie, vir tot 12 maande se kwytskelding aansoek kan doen. “Enige kwesbare onderneming wat dit nie kan bekostig nie, sal vir bystand oorweeg word binne die beskikbare middele, wat aansporings insluit.”

Me. Jahni de Villiers is die hoof van arbeid en ontwikkeling by Agri SA. Sy sê die nuwe kwytskeldingsproses, soos die Departement van Arbeid dit deurgaans verduidelik het, behels ’n elektroniese stelsel soortgelyk aan die elektroniese indieningstelsel (e-filing) wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gebruik.

Die nuwe regulasie maak dit moontlik dat boere kan aanvaar hulle is kwytgeskeld van die hoër loon indien die departement nie binne 30 dae ná hul aansoek ’n beslissing uitreik nie. Dit kan baie probleme, veral onvoorsiene finansiële probleme, uitskakel.

Ná die gewelddadige protesoptogte in die Wes-Kaap in 2012 het lone met R36 gestyg. Boere kon toe om kwytskelding aansoek doen, maar die proses het só lank geduur dat heelwat boere die nuwe dagloon van R105 terugwerkend moes betaal. Boere wat gewag het vir hul aansoeke om verwerk te word, is toegelaat om ’n laer loon aan werkers te betaal. 

Boere is bekommerd

De Villiers sê boere wil nie noodwending van die kwytskeldingsproses gebruik maak nie omdat hulle vrees dit kan ’n arbeidsprobleem veroorsaak. ’n Boer wat noodgedwonge daarom moet aansoek doen, kan moontlik van sy werkers verloor wat by ’n ander boer in die omgewing wat nie om kwytskelding aansoek hoef te gedoen het nie, kan gaan werk.

“Dis niemand se skuld nie, maar boere wil nie hul werkers verloor nie.”

Wat voorbereiding betref, sê Agri SA sy lede moet groot klem plaas op werkers se produktiwiteit. Die doel is om seker te maak dat die mense wat in diens is, wel produktief in diens is. Lede moet ook weet wat die wetgewing en regulasies behels, want “in hierdie geval is kennis waarlik mag”, sê De Villiers.