Die Mededingingskommissie het klagtes teen Technical Systems en RTS Industries, wat handel oor die verdeling van markte deur die toewysing van gebiede, vir vervolging na die tribunaal verwys.

Die kommissie sê in ’n verklaring die maatskappye vervaardig en verskaf plat draad, awegare en awegaarrolmasjinerie aan die globale pluimveevoedingsmark.

Die twee maatskappye het in Junie 2015 ooreengekom dat RTS Industries uit die mark sou tree, wat strydig is met die Wet op Mededinging.

Die eienaar van RTS was voorheen ’n werknemer van Technical Systems. Hy het in 2009 bedank en ’n drie jaar lange handelsbeperkingsooreenkoms gesluit. In dieselfde jaar het hy RTS egter tot stand gebring en regstreeks met Technical Systems begin meeding.

Technical Systems het RTS en sy eienaar in 2014 vir die verbreking van die ooreenkoms gedagvaar.

In Junie 2015 het RTS in die Wes-Kaapse hooggeregshof ’n skikking met Technical Systems bereik ingevolge waarvan RTS verbied word om ooit weer tot die mark toe te tree.

Die kommissie het in sy ondersoek vasgestel dat die ooreenkoms ewigdurend is en dat RTS nooit die mark sonder goedkeuring van Technical Systems kon betree nie.

Die kommissie sê RTS het hiertoe ingestem, uit vrees vir nimmereindigende regstappe.

Die kommissie sê hy beywer hom nie vir ’n boete teen RTS nie, wat vroeër om korporatiewe toegeeflikheid aansoek gedoen het. RTS het sy samewerking aan die kommissie gegee en sal sy bystand gee met die vervolging van Technical Systems, luidens die verklaring.

Prysvasstelling

Die tribunaal het intussen in ’n verklaring gesê die sakereddingspraktisyn van Progress Milling het bevindinge van die kommissie aanvaar dat die onderneming by prysvasstelling in die mark vir witmieliemeel betrokke was.

Die maatskappy is sedert Maart 2016 in sakeredding.

Progress Milling gaan ’n administratiewe boete van R2,12 miljoen betaal. Die maatskappy het ook erken dat hy markte verdeel en verbruikers toegewys het.

Die kommissie het in Maart 2007 klagtes teen Tiger Brands, Pioneer Foods, Foodcorp, Pride Milling en Progress Milling begin.

Blinkwater Mills, Godrich Mills, TWK Milling, Keystone Milling, Westra Milling, Carolina Rollermeule, Brenner Mills, Paramount Mills, NTK Milling en Bothaville Milling is later ook ingesluit.Premier Foods en Tiger Brands het in dieselfde jaar om korporatiewe toegeeflikheid aansoek gedoen.Die maatskappye wat skikkingsooreenkomste met die mededingingsowerhede bereik het waarin hulle prysvasstelling erken, is soos volg beboet:

  • Brenner Mills is met R12 000 872 beboet.
  • Pride Milling het ’n administratiewe boete van R10 624 959 betaal.
  • Blinkwater het R10 112 504,20 betaal.
  • Keystone Milling het R6 730 349 betaal.
  • Carolina Rollermeule het ingestem om R4 417 546 te betaal.
  • Bothaville Milling het R4 211 385,90 betaal.
  • Godrich Mills het R4 354 467 betaal.
  • Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.