Só sê me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Dit het aan die lig gekom dat ’n oud-ANC-LP, mnr. Mziwamadoda Kalako, een van die hoofdirekteure van Tlhapi Zizi (Edms.) Bpk. is.

Hy is deel van ’n groep vermeende MK-veterane aan wie die plaas Colenso onder die vaandel van Tlhapi Zizi (Edms.) Bpk. toegewys is. Mnr. Ivan Cloete, wat op die plaas geboer het, is die trekpas gegee. Van die vermeende veterane besit reeds plase.

Kalako was vanaf 2014 tot 2019 ’n ANC-LP. Hy is die provinsiale sameroeper van die ANC in die Wes-kaap.

“As sy dit nie doen nie, sal dit die vermoede bevestig dat die hele grondhervormingsprogram gekaap is om die belange van MK-veterane bo dié van hardwerkende, gewone Suid-Afrikaanse boere te stel,” sê Steyn.

Daar moet ook duidelikheid gegee word oor die invloed van Kalako se politieke bande op die besluit om Cloete van Colenso te verdryf en die plaas aan die Tlhapi Zizi-groep te gee.

Besit plase

Die ander direkteur, mnr. Pholoso Malatji, is ’n mededirekteur van Cannsun, ’n onderneming wat medisinale dagga by Atlantis in die Wes-Kaap verbou. Die maatskappy besit reeds 23 ha grond, sê Steyn. Nog ’n direkteur, mnr. Lesedi Ignatius Baisitse, is as direkteur by Piketberg Sunrise Farms betrokke.

“Hoe kan die departement toelaat dat individue wat reeds plase en boerderyondernemings besit, toegang tot staatsgrond bekom bo kwesbare boere soos Cloete wat van die grond afhanklik is? Pleks daarvan om Cloete te ondersteun in sy boerdery, word hy nou deur die departement versaak sodat kaders met veelvuldige plase se belange bevorder kan word.”

Sy sê Cloete is die jongste voorbeeld van kwesbare boere wat geteister word sodat hul grond aan vermeende MK-veterane oorgedra kan word.

“Laat ons nie vergeet van mnr. Vuyisile Zigana van KwaZulu-Natal se klagtes van onregverdige behandeling en beweerde korrupsie in verband met die toekenning van die plaas Spioenkop deur amptenare van die departement in KwaZulu-Natal nie.”

Dit is baie kommerwekkend dat Didiza toelaat dat die teisterings ongestraf voortgaan en dat klagtes eers ondersoek word nadat die boere alles verloor het.