Volgens die bevindings van ’n onafhanklike studie wat die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) laat doen het, sal plaaslike produsente waarskynlik nie aan die vraag kan voldoen nie.

Die teenstortingsgroep FairPlay sê egter dit is net nog ’n desperate poging deur ryk vleisinvoerders om te probeer keer dat hoër tariewe hul winste verminder. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het verlede jaar gevra vir die maksimum tarief kragtens die reëls van die Wêreldhandelorganisasie en sê dit is allermins ’n oorhaastige besluit. ’n Kennisgewing oor die aansoek is op 30 November 2018 in die Staatskoerant afgekondig sodat belanghebbendes kommentaar daarop kan lewer.

Die SAPV, wat heelwat van Suid-Afrika se groot pluimveeprodusente verteenwoordig, glo die huidige tariewe van 12% tot 37% bied nie genoeg beskerming aan die plaaslike bedryf nie.

Amie sê egter die navorsing wat deur FTI Consulting, ’n internasionale sakeraadgewer, gedoen is, het bevind dat dit tot beduidende prysverhogings sal lei in die bedryf wat reeds hoogs beskermd is. Verder is bevind dat die hoeveelheid hoendervleis wat plaaslik beskikbaar gaan wees, konserwatief gesproke, met meer as 44 650 ton gaan afneem as die huidige voorstelle aanvaar word.

Die afname gaan volgens Amie tot hoër pryse lei en kan in die eerste jaar ’n geraamde verlies van R1,1 miljard vir die BBP veroorsaak. Dit sal met ’n styging in werkloosheid gepaardgaan, wat ’n verdere daling in plaaslike verbruik en beleggings sal veroorsaak. Saam met werkverliese elders in die waardeketting, soos die verspreiding en verwerking van vleis, voorspel die navorsing 1 440 werkverliese oor die breër ekonomie.

Vryer markbenadering

Mnr. Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, sê die tekort aan hoendervleis wat deur die voorgestelde tariewe veroorsaak gaan word, sal die Suid-Afrikaanse ekonomie benadeel. “Die enigste wenners sal ’n handjie vol groot produsente wees wat reeds voordeel trek uit laer voerpryse en produksiekoste in ’n hoogs doeltreffende bedryf. Hoe kan ’n reusetariefverhoging geregverdig word wanneer markleiers, wat ook ’n beduidende aandeel in die voedselverskaffingsketting het, rekordwinste van R1,5 miljard per jaar toon?”

Hy sê die oplossing is om ’n vryer markbenadering te volg wat toelaat dat invoer die plaaslike aanbod aanvul waar plaaslike produksie tekort skiet. “Die voortdurende redenasie dat hoendervleis in Suid-Afrika gestort word, is ook misleidend aangesien dit die indruk wek dat minderwaardige produkte plaaslik verkoop word. Ingevoerde hoendervleis word onderwerp aan verskeie gehalte- en veeartsenykundige ondersoeke wat gehalte verseker.”

Die SAPV sê Amie se besluit om nou die studie te doen, wanneer die besluit oor die tarief reeds hangende is, moet bevraagteken word aangesien die proses al byna ’n jaar aan die gang is en die vereniging meer as genoeg tyd gehad het om voorleggings saam met ander belanghebbendes te doen.

Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SAPV se braaihoenderorganisasie, sê daar is niks nuut in die studie nie en dat die minister en die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) reeds al die inligting van elke belanghebbende, insluitend Amie, het en dit sou gebruik het om ’n besluit oor die tarief te maak.

“Daar moet onthou word dat tariewe ’n meganisme is wat die die Wêreldhandelsorganisasie ingestel het teen onregverdige handel. Die departement van handel en nywerheid moet dan die vlak van onregverdige handel bepaal. Die feit dat die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf onregverdige handel ervaar en nadelig geraak word, is dus nie meer in dispuut nie. Dit is vasgestel en al wat nog gedoen moet word is dat die korrekte tarief deur Itac bepaal en deur minister Ebrahim Patel bekragtig moet word.”

Mnr. Francois Baird, stigter van FairPlay, sê dit is ’n feit dat ’n toenemende toevloei van gestorte hoendervleis, oorwegend vanuit die Europese Unie en Brasilië, tot ’n afname in produksie en ook werkverliese gelei het. “Om net een voorbeeld te noem: RCL Foods het in 2017 produksie met byna ’n miljoen hoenders per week verminder teen ’n koste van 1 300 werksgeleenthede.”

Hy sê die plaaslike produksie neem nie toe nie omdat die hoeveelheid gestorte hoendervleis dit onaantreklik en/of onwinsgewend maak om in plaaslike uitbreiding te belê. “Die gevolg is dat die meeste van die toenemende vraag na hoendervleis in Suid-Afrika deur invoer gevul word. Ons voer dus werkgeleenthede uit na Brasilië en elders. As die plaaslike bedryf teen onregverdige mededinging beskerm word, sal daar uitbreiding en werkskepping wees. Die SAPV het beraam dat 30 000 werkgeleenthede geskep kan word deur invoer met plaaslike produksie te vervang, sonder enige noemenswaardige prysverhoging vir die verbruiker.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.