Veranderinge aan die Grondwet sal plaasvind, maar dit sal meer simbolies van aard wees. “ ’n Nuwe son gaan nie vir Suid-Afrika ná verkiesingsdag op 8 Mei opkom nie, en vinnige en drastiese veranderinge gaan nie plaasvind nie.”

Só het mnr. Theo Venter, politieke kommentator en dosent aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, tydens Laeveld Agrochem se Seil-Safari aan boord van die MSC Musica gesê. Hy het gepraat oor die pad ná die 2019-verkiesing, en gewaarsku dat diegene wat ná ’n verkiesingsoorwinning vir pres. Cyril Ramaphosa oornag veranderinge in Suid-Afrika verwag, teleurgesteld gaan wees. “Hy het met ’n bitter klein meerderheid gewen en staan as’t ware wydsbeen oor twee ‘beleide’ binne die ANC – vandaar sy jongste uitsprake oor grondhervorming.”

Die lae ekonomiese groeikoers gaan tussen 1% en 2% bly vir minstens die volgende drie jaar. Beleidsonsekerhede sal daarvoor sorg, het Venter gesê.

Hy meen daar steek nie veel in die gerugte dat Ramaphosa ná ’n oorwinning vir die ANC uit sy amp verwyder sal word nie. “Maar weens die samestelling van die ANC, sal die ou strukture steeds daar wees. Korrupsie sal wel gaandeweg aangepak word, maar dit gaan ’n langsame proses wees.”

ANC gaan dalk nie 60% haal

Hy glo nie die ANC gaan 60% van die stemme kry nie – wel tussen 54% en 58%. Die DA gaan ook sukkel om sy 22% te haal, terwyl die EFF tussen 8% en 10% stemme behoort te trek. “Ek dink ook baie mense gaan buite stemming bly.” Minder jonger mense – wat die EFF sou steun – het geregistreer vir die verkiesing, terwyl groot getalle ouer mense van tussen 30 en 60 jaar oud wel geregistreer het en gaan stem.

“Dit kan bepalend wees waarheen die land gaan. Ek het die gevoel dat kleiner partye beter kan vaar in die verkiesing. Maar onthou, ’n party wat 1% van die steun gehad het, en ná die verkiesing 2% het – daardie party het 100% groei getoon.”

Wat grondonteiening sonder vergoeding betref, is die regering besig om plase in dele van die land aan te koop waarop verbande is en dit oor te dra na swart boere, “maar dit is beslis nie onteiening nie”. Hy meen druk op stedelike grond gaan toeneem, maar ekonomiese werklikhede plaas ’n demper op die ambiseuse uitsprake van politici. Tewens, ekonomiese werklikhede plaas in die algemeen ’n demper op die ambisies van sommige politieke partye.

Dinge wat die buitewêreld oor Suid-Afrika pla, is werkloosheid, beheerstrukture wat uitmekaar val, die algemene mislukking van die regering en infrastruktuur wat drasties agteruitgaan. “Die maatskaplike onstabiliteit van vyf of ses betogings daagliks landwyd, maak Suid-Afrika waarskynlik die enigste land ter wêreld wat nie in ’n burgeroorlog gewikkel is nie, maar só ’n omvang van maatskaplike onrus het.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.