“Min verskille bestaan tussen die liberale deel van die DA (Mmusi Maimane) en die ‘Davos-ANC-groep’, maar die gevaar is dat die staatsgedrewe ANC-groep en die EFF baie na aan mekaar beweeg,” het mnr. Theo Vorster, ekonomiese kommentator en stigterslid van Galileo Capital tydens Laeveld Agrochem se Seilsafari aan boord van die MSC Musica gesê.

Hy en mnr. Theo Venter, politieke kommentator verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, het saam besin oor scenario’s vir 2020 in Suid-Afrika.

Venter het saamgestem dat ’n deel van die ANC en DA tans oorvleuel wat beleid en siening betref, asook die oorvleueling van die ander pool van die ANC en die EFF. “’n Nuwe generasie politieke leiers is besig om op te beweeg, en dit kan die ANC op ietwat brose grond laat,” het Venter gesê.

WEGBREKERS

Net soos die Nasionale Party (NP) in 1948 die regering oorgeneem het, teen die laat 1970’s ’n hoogtepunt bereik en daarna begin opbreek het in splinterpartye soos die HNP en KP, so is daar reeds gevaartekens vir die ANC met die wegbreking van Cope, UDM en die EFF. “Ek dink die ANC begin op dun ys beweeg, en dit kan in die verkiesing verder na vore kom.” Vorster het gemeen die groot vraag is of die Ramaphosa (Davos)-groep en die staatsgedrewe groep binne die ANC se verhouding gaan oorleef. “Gaan rede en rasionaliteit oorleef?”

Al meer koalisies word tussen die ANC en ander groepe oral in die land gevorm – daar funksioneer nou reeds 33 sulke koalisies tussen die ANC en DA. “Die daling in steun vir die ANC tydens die munisipale verkiesing van 2016 was die grootste daling in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis,” het Vorster gesê.

Drie miljoen tradisionele ANC-kiesers het buite stemming gebly, en die vraag by dié geleentheid was of dit weer tydens die algemene verkiesing sou gebeur.

SWAK BELEGGING

Suid-Afrika se ekonomiese groei was vir baie jare naby aan dié van die wêreld, maar dit het in die hek geduik tydens die Zuma-jare. “Die geskenk van Zuma aan Suid-Afrikaners is dat ons ekonomie baie swakker is as wat dit sou gewees het met ’n waarskynlike groeikoers van 4,6%. Ons werkloosheidsyfer sou op sowat 20% gestaan het.”

Wat die ANC se plan om die Reserwebank te nasionaliseer betref, het Vorster gesê dit was altyd ’n swak belegging vir aandeelhouers en dit gaan geen verskil maak nie. Wat egter belangrik is, is dat nie aan die Reserwebank se onafhanklikheid oor die monetêre beleid gepeuter moet word nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.