Die koue wat groot dele van Suid-Afrika sedert einde verlede week in sy greep gehad het, het vir sommige boere in die hoogliggende dele van die Oos-Kaap en die Suidoos-Vrystaat groot skade berokken. Mnr. Oubaas du Plessis, ’n boer van Zastron, sê sy boerdery het meer as 900 skape verloor met die koue weer wat verlede Donderdag (5 Oktober 2017) voorgekom het. Einde September is tradisioneel skeertyd by hulle.

“Ons het die skape in klipkrale, onder bosse en by beskutting ingejaag, maar vir party was dit reeds te laat. ’n Skaap kan koue, wind of reën hanteer, maar sodra daardie drie saam voorkom, veroorsaak dit probleme,” sê Du Plessis.

Meer as 400 lammers

Du Plessis sê hy weet ook van tientalle boere wat lammers weens die koue verloor het. Mnr. Wallis Hardy, ’n boer van Barkly-Oos, het 426 lammers verloor. “Die lammers wat weens die koue gevrek het, is enigiets van ’n uur tot twee dae oud.”

Mnr. Jannie Pretorius, ’n boer van Barkly-Oos, het ’n inisiatief begin vir enigeen wat Du Plessis of ander boere wat skape verloor het, wil ondersteun. As hul medeboere enige skape wou skenk, kan hulle Pretorius bel by sel 082 422 6559 of tel. 045 971 9061.

Groot dankbaarheid vir reën

Mnr. Gideon Greyvenstein, voorsitter van Barkly-Oos se boerevereniging, sê geen groot verliese is sedert Maandag (9 Oktober 2017) by hom aangemeld nie. “Ná die ernstige brande in die distrik is ons baie dankbaar om te kan sê gemiddeld 75 mm reën is gemeet sedert dit by ons begin reën het.”

Greyvenstein sê boere in die distrik wil hul dankbaarheid betoon deur die voerskenings wat hulle ná die kwaai brande ontvang het, beskikbaar te stel aan boere in dele van Suid-Afrika waar daar ernstige nood en droogte ondervind word.