Op 23 Maart het pres. Cyril Ramaphosa ’n nasionale inperking weens die verspreiding van die koronavirus aangekondig. Die landbou- en voedselvoorsieningsektor is egter noodsaaklike dienste vir lewensbestaan en daarom bly dit in bedryf, het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gesê.

Volgens mnr. Nico Muller van die CL de Villiers-markagentskap op die Johannesburgse varsproduktemark, en voorsitter van die Instituut vir Markagente, gaan verkope op markte voort soos normaal.

“Ons moedig kopers aan om per elektroniese transaksies hul geld oor te plaas om persoonlike kontak deur kontant of bankkaarte te vermy.”

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike hervorming, het vroeër ’n landboutaakspan oor die situasie in die lewe geroep.

Een van die verteenwoordigers van die landboubedryf is mnr. Francois Knowles, registrateur van die landbouprodukte-agenteraad (Apac).

“Die taakspan gee baie aandag aan die uitwerking van die koronavirus op die landbou en die blootstelling van die arbeidsmag in die sektor daaraan. Binne die varsproduktemarkte word nou aandag gegee aan die higiëne, soos om markvloere en ablusiegeriewe skoon te hou, om die veiligheid van die markomgewing te verseker.”

Hoewel Ramaphosa samekomste van meer as 100 mense op ’n slag verbied het, is die meeste kundiges in die bedryf, insluitend Knowles, gerus dat markte nie sommer gesluit sal word nie.

“Smouse en straatverkopers se sake sal moontlik totaal gestaak moet word. Dit sal die aantal mense op die markte aansienlik verminder omdat hierdie segment vir tot 40% van verkope op markte verantwoordelik is, maar ’n veel groter deel van die aantal kopers op die mark is.” 

Plaaslike verbruik

Volgens mnr. Deon van Zyl, bedryfshoof van die markagentskap Grow, is ’n groot deel van Suid-Afrika se voedselsekerheid afhanklik van die doeltreffende funksionering van die varsproduktemarkte.

“Die stadsrade sal hierdie aspek sterk oorweeg voor hulle die markte sluit.”

Volgens mnr. Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van die RSA-groep, dien die markte ook as ’n goeie meganisme om regverdige pryse te bepaal. Hoewel hy meen markte sal nie sommer sluit nie, sê hy niks moet meer as vanselfsprekend aanvaar word nie.

“Ons sal op ons voete moet dink. As ons meer logistieke prosesse regdeur die waardeketting moet instel om menslike kontak te verminder, moet die ganse waardeketting reg wees om daardie kwessies gesamentlik aan te pak. Ons moet dus reg wees om met minder mense dieselfde werk te doen.” 

Uitvoer is noodsaaklik

Die moontlikheid dat die huidige situasie transaksies meer vaartbelyn kan maak te midde van logistieke kwessies, is ’n goeie vooruitsig, sê mnr. Charl van der Merwe, ’n groenteboer van die Môrester-landgoed in die Koue Bokkeveld.

“As ons dit kan regkry sonder om die prysvasstellingsmeganisme op te offer, sal almal daarby baat vind.”

Knowles is tans besig om protokol tussen ál die markte te koördineer om kontinuïteit te verseker en te keer dat die prysvasstellingsmeganisme verwronge word.

Mnr. CT van der Merwe, ’n groenteboer van Al3 Boerdery naby Dendron in Limpopo, beklemtoon die noodsaaklikheid dat die grense na Suid-Afrika se buurlande vir uitvoer moet oop bly.

Wat in boere se guns tel vir internasionale marktoegang, is die pakskure van wêreldgehalte op boere se plase, meen Oosthuizen.

“Bykans ál ons boere se pakhuise moet aan GlobalGap, HACCP en talle ander internasionale minimumstandaarde-oudits voldoen. Dit is iets wat die verbruiker tuis en in die buiteland baie gerustheid behoort te gee.”