“Die twee grootste hulpmiddele wat boere eintlik nou nodig het, is ’n staatswaarborgstelsel en gesubsideerde oesversekering om hulle in dié moeilike siklus by te staan en weer in ’n gunstige kontantvloeisiklus te plaas,” sê hy.

Op plaasvlak is dit vir ’n boer moeilik om self die druk te verlig, maar daar is volgens Strydom tog sekere faktore waarna gekyk kan word.

Die regstreekse koste word normaalweg baie noukeurig bestuur.

“Boere is geneig om op goed soos kalk en selfs kunsmis te wil bespaar om regstreekse koste te verminder. Die toediening moet op so ’n vlak plaasvind dat dit jou wins optimaliseer. Jy moet terselfdertyd seker wees wanneer toestande verbeter het, sal jy steeds jou winste kan optimaliseer, met ander woorde jou grondstatus moenie daar onder ly nie omdat dit jou op langer termyn duurder kan kos.

“Weens druk op kontantvloei is ’n boer egter wel soms genoodsaak om veranderinge te maak.”

Strydom sê boere moet seker maak dat die insette wat hulle gebruik, die vereiste randwaarde-gehalte bied en dat hulle nie risiko’s met onbekende produkte loop nie. 

Vaste koste

In moeilike tye met swak pryse en/of lae opbrengste, is dit vir graanboere belangrik om hul ondernemings só te bestuur dat vaste koste so laag moontlik gehou word.

“Die regstreekse koste kan soms gedek word, maar die hoë vaste koste eet dan die oorblywende wins op. Die vaste koste het ook ’n manier om oor die jare op te bou. Daarom is dit soms nodig om dít weer behoorlik te hersien.”

Strydom sê dit is altyd goed om weer krities na ’n onderneming te kyk en beginsels van produksie-ekonomie toe te pas – om dus te kyk teen watter inset- en uitsetpeile wins gemaksimaliseer word.

Sy raad aan boere wat bekommerd is dat hulle later vanjaar kan sukkel om lenings terug te betaal, is om so vroeg moontlik met finansiers en insetverskaffers daaroor te gesels.

“Binne die beperkinge van die Kredietwet is daar sekere skuiwe wat gemaak kan word en hulpmiddels wat beskikbaar is wat in ’n mate kan help, maar dit moet vroegtydig bestuur word.

Ondersteuning

In moeilike tye soos nou word boere geestelik deur hul geloof en nabye ondersteuningstelsels gedra, sê Strydom.

“Kontak binne studiegroepe is belangrik om mekaar moed in te praat en ook om proefdata uit te ruil oor waar die beste ekonomiese beginsels binne ’n spesifieke gebied toegepas word.

“Dit raak egter ál moeiliker namate die droogtes al hoe meer raak en daar nie meer grasie vir foute is nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.