Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee en ’n boer van die distrik Heilbron in die Noord-Vrystaat, sê polisiehonde word onder meer gebruik in die soektog na die verdagtes.

Dit volg nadat ’n plaasaanvaller naby Sasolburg verongeluk het nadat die bejaarde mnr. Ronnie Brand vanoggend op sy plaas naby die Jim Fouché-vakansieoord buite Oranjeville aangeval is. Die aanvallers het met Brand se bakkie van die toneel gevlug. 

Netwerk24 berig een plaasaanvaller is op die toneel dood nadat hy vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en dit gerol het.

“Die ongeluk het naby aan ’n informele nedersetting gebeur en die ander twee verdagtes het na verwagting in die rigting van die nedersetting gevlug,” het Esterhuyse, aan Landbou.com gesê. 

“Boere is oor die Noord-Vrystaat heen is in kennis gestel van die aanval en gevra om op die uitkyk te wees vir die gesteelde voertuig. Daar was ook goeie samewerking tussen die polisie en plaaswagte om die verdagtes te soek.” 

Volgens Netwerk24 is Brand erg aangerand. Hy is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem.

Lang naweek

Esterhuyse het ’n versoek tot boere gerig om, met die langnaweek wat voorlê, seker te maak dat hulle enige verdagte omstandighede, voertuie of persone by hul plaaswagte aanmeld. “Gevalle van honde wat op plase vergiftig is, is ook vanoggend op veiligheidsgroepe aangemeld. Boere, hul families en werkers moet asseblief paraat wees en met hul plaaswagte in kontak bly.”

Volgens Esterhuyse het plaasaanvalle in die Vrystaat tot dusver vanjaar toegeneem vergeleke met verlede jaar. In dié stadium is 32 plaasaanvalle en 5 plaasmoorde al vanjaar op Vrystaat Landbou se veiligheidsafdeling se databasis aangeteken.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.