Die landbousektor in die Wes-Kaap het reeds sy woord gegee dat hy nie sy toegestane geprojekteerde jaarlikse teiken van 58,8 miljoen m3 water sal oorskry nie. Daar was ook aanbiedings om oorskotwater aan inwoners beskikbaar te stel.

Dag Zero, die dag waarop Kaapstad se inwoners noodgedwonge na aangewese waterpunte sal moet gaan om 25 liter water per persoon per dag te gaan haal, sou na verwagting op 16 April aangebreek het. 

Verlaagde kwotas opgebruik

Talle waterverbruikers in die landbousektor wat gebruik maak van dieselfde watervoorsieningstelsel wat ook die Stad Kaapstad bedien, het reeds hul toegestane verlaagde waterkwota opgebruik. Die landbousektor onttrek sowat 30% van die water in die watervoorsieningstelsel.

Teen 15 Januarie het die landbou reeds 44,1 miljoen m3 van sy geprojekteerde jaarlikse teiken van 58,8 miljoen m3 opgebruik. 

Mnr. Carl Opperman, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, sê boere langs die laer-Bergrivier en by Riviersonderend het reeds hul kwota opgebruik. Die boere langs die Bo-Bergrivier se kwota is ook amper op. Die watertoevoer na die gebiede waar die kwota opgebruik is, is reeds afgesny.

Die rede waarom die landbou nou so vinnig sy kwota bereik, is aangesien ’n deel van November se water al verlede jaar in Oktober geleen moes word toe dit so warm was, het Opperman gesê.

Waterkrisis is nie verby 

Mnr. Ian Neilson, adjunkburgemeester van die Stad Kaapstad, het gesê die landbou se waterverbruik sal dus oor die volgende paar weke beduidend afneem. Daar word gereken dat die huidige 30%-wateronttrekking uit die waterskema tot sowat 15% in Maart sal afneem en verder tot 10% in April. Dit maak dit moontlik dat Dag Zero met byna ’n maand uitgestel kan word.

Die Stad Kaapstad waarsku dat die waterkrisis egter nog nie verby is nie. Daarom moet mense voortgaan om nie meer as 50 liter water per persoon per dag te gebruik nie om te kyk of Dag Zero verhoed kan word.

Verlede jaar was die winterreënval in die Wes-Kaap abnormaal laag en ’n mens kan nie aanvaar dat dit vanjaar anders sal wees nie, het Neilson gesê.