Boere wat Maandag (30 Oktober 2017) deelgeneem het aan die saamtrek teen plaasaanvalle en -moorde by Klapmuts naby Stellenbosch het gebid vir vrede in Suid-Afrika. Die saamtrek is gereël deur me. Talita Basson, ’n student van die Universiteit Stellenbosch, in reaksie op die moord op mnr. Joubert Conradie, ’n boer van Klapmuts, verlede week.  

Mnr. Daniel Briërs, ’n boer en een van die organiseerders, het ’n emosionele beroep op bywoners gedoen om haat en onvergewensgesindheid te laat staan. “Ek verstaan as jy kwaad is. Ek verstaan goed! Maar ons gaan vandag ons haat en onvergewensgesindheid op hierdie veld los.”

Briërs sê hoewel daar mense is wat vandag treur oor hul verlies, is dit ook ’n geleentheid om vorentoe te kyk. “Liefde, vrede en vergifnis sal ons vorentoe vat. Genoeg is genoeg!”

Me. Marlene Conradie, Joubert se vrou, het ook ’n beroep om vrede gedoen. “Ek was so kwaad verlede week dat hulle hom so seergemaak het. Maar elke keer wat ek daaroor moes praat, het die Heilige Gees my gelei om in liefde te praat, want in haat sal ons nie die plaas so mooi kan hou soos hy dit gelos het nie.”

Dit gaan nie oor ons nie

Mnr. Philip Blanckenberg, Joubert se buurman, het op sy beurt gebid dat Suid-Afrika van onheil gered word.

Hy het vir pres. Jacob Zuma gebid en gevra dat Zuma se hart gelei sal word om regte ding te doen. Hy sê die inisiatief gaan nie oor hulle as gemeenskap nie, maar om haat in almal se harte te verwyder en om aan misdadigers te sê Suid-Afrika sal saamstaan teen misdadigheid. 

Mnr. Samuel West, ’n plaaswerker van die omgewing, het gebid vir vertroosting en vir elkeen wat sy of haar hart verhard. “Here, dié wat hul harte verhard, wil U vir hulle hinder totdat hulle hulleself na U draai.”