Heelwat verliese wat melkprodusente weens mastitis ly, kan met goeie bestuur vermy word.

Dr. Henk Hogeveen van die Universiteit van Wageningen in Holland het op die jaarkongres van die Veegesondheid- en Produksiegroep van die SA Veterinêre Vereniging op Skukuza in die Kruger-wildtuin gesê dit is omdat baie boere mastitis se ekonomiese gevolg geringskat.

Wêreldwyd ly boere gemiddelde verliese van R880 tot R1 400 per koei. Op Duitse melkplase wissel die verliese tussen R245 en R2 856 per koei per jaar. “Baie boere skat die verlies te gering wat 'n aanduiding is dat baie daarvan met bestuur verhoed kan word,” het hy bygevoeg. Daarom moet die boer nie slegs oor die simptome ingelig word nie, maar ook oor die geld wat hy kan verloor.

Verskeie voorkomende maatreëls wat toegepas kan word, toon ekonomiese voordele, naamlik om koeie te laat staan nadat hulle gemelk is, terugspoel van die melkklos nadat 'n koei met kliniese mastitis gemelk is, behandeling, was van vuil uiers en gebruik van handskoene deur werkers.

Sulke voorkomende maatreëls kos die boer ook nie meer geld as wat die voorkoming van mastitis hom in die sak bring nie. Uitgawes weens mastitis kos Hollandse produsente volgens die ondersoek gemiddeld R894 vir kliniese mastitis, R202 vir subkliniese mastitis en R1 269 vir voorkomende maatreëls per koei per jaar.