Mnr. Julian Conrad, geohidroloog van Geoss, wat al jare lank wateropnames in die Sandveld doen, sê die gemiddelde grondwatervlak het met bykans 0,5 m tot 14,9 m gestyg. Die grondwatergehalte het van 144,3 mS/m tot 140,8 mS/m verbeter.

“Die resultate was verrassend en goeie nuus. Ek het dit glad nie verwag nie. Watergehalte het verbeter sedert 2018; grondwatervlakke het op ’n paar plekke geval, maar is oor die algemeen stabiel,” het Conrad aan boere by die Sandveld-aartappelwerkgroep se inligtingsdag op Aurora gesê. Hy het water van Lambertsbaai af, deur al die opvangsgebiede tot by Darling getoets. Hulle het veral vir brak en nitrate getoets.

Conrad het dit toegeskryf aan ietwat hoër reënval in 2018 en 2019 as in die vorige jare. Dit was veral bo-op die Piketberg, vanwaar die Sandveld se grondwater aangevul word. Die Sandveld beleef al sedert 2008 ’n droë siklus. “Die reënval het gehelp om vars water in die stelsel te plaas.”

Die goeie nuus geld egter nie oppervlakwater nie, sê Conrad. Die watergehalte (EC) in die Verlorenvlei was verlede jaar 3 220 mS/m. Vanjaar is dit 4 240 mS/m – feitlik net so sout soos die oseaan (5 000 mS/m). Geen vars water vloei in die vlei in nie.

“Dit sal interessant wees om te sien hoe dit sal uitspeel. Dalk raak die vlei heeltemal droog óf ons kry ’n groot reëngebeurtenis,” sê Conrad.

Wat munisipale watervoorsiening aan die Sandveld betref, gaan dit goed in Graafwater, Paleisheuwel en Elandsbaai. Die gevaarligte flikker egter op Leipoldtville, waar daar net een boorgat vir die dorp is.

“Dis noodsaaklik dat die ontsoutingsaanleg op Lambertsbaai in gebruik kom. Daar is twee produksieboorgate vir Lambertsbaai, maar die volhoubare opbrengste vir die omgewing word 1,5 keer oorskry. Die watervlakke neem dus af.”