Hy sê AfriForum, wie se veiligheidstrukture Vrydag (6 Augustus) ’n versetoptog gehou het waaraan 500 voertuie deelgeneem het, sal aanhou om bewustheid oor plaasaanvalle te skep en te help om gemeenskappe teen dié misdade weerbaar te maak.

Die optog volg nadat me. Leonise Joubert (61) en haar man, Chris (62) van die Dendron-distrik in Limpopo Donderdag (5 Augustus) deur drie aanvallers in hul huis aangeval en ernstig beseer is. Chris se bejaarde ma, Betsie Joubert (98), is in haar slaapkamer deur die drie mans oorval.

Die polisie het later daardie oggend drie verdagtes in hegtenis geneem en gesteelde goedere teruggevind. Tydens die inhegtenisneming is oor en weer geskiet, en een van die verdagtes is gewond. Dié verdagte is later in die hospitaal oorlede.

Die ander verdagtes het Vrydag in die Morebeng-landdroshof op aanklag van verkragting, gewapende huisroof en poging tot moord verskyn verskyn. Die saak is tot 14 Augustus uitgestel wanneer die verdagtes om borgtog kan aansoek doen.

Leonise is tydens die aanval verkrag. Sy het volgens Netwerk24 toestemming gegee dat haar naam ná die verkragting in berigte gebruik word omdat sy “wyd en syd ’n boodskap van hoop” wil versprei.

Intussen berig Netwerk24 dat onbekende aanvallers Saterdagaand op me. Marelie Wroe (43), ’n bestuurder op die Landsberghoek-plaas in die Percy Fyfe-gebied buite Mokopane in Limpopo, in die plaashuis geskiet het. Sy het vanuit die plaashuis teruggeskiet.

Die polisie in Limpopo ondersoek glo nie die voorval nie omdat Wroe nog nie ’n klag aanhangig gemaak het nie. Volgens Wroe het sy nie die polisie gebel nie omdat sy nie ’n sein op die plaas het nie. Sy wag glo dat die polisie haar moet bel.