Dié waarskuwing van die verbruikerskommissie kom ná die gewelddadige protesoptoge, plundery en grootskaalse diefstal by winkelsentrums en pakhuise in KwaZulu-Natal en Gauteng. Dit het daartoe gelei dat winkels wat nie geplunder of afgebrand is nie, ’n tekort aan kos op hul rakke ervaar weens die voedselvoorsieningsketting wat lamgelê was.

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het onlangs ’n beroep gedoen dat verbruikers nie paniek-kosaankope moet doen nie en beklemtooon dat daar genoeg kos in die land is. Sy het met belanghebbendes in die voedselvoorsieningsketting vergader om die kosvoorsieningsprobleme in die twee provinsies te bespreek.

Ingevolge die regulasies vir rampbestuur wat geld sedert pres. Cyril Ramaphosa in Maart verlede jaar ’n nasionale ramptoestand weens die covid-19-pandemie aangekondig het, word verskaffers van kos en basiese verbruikersgoedere verbied om hul pryse vir winsbejag op te stoot. Dit geld ook noodprodukte en dienste, mediese en higiëniese produkte, asook nood-skoonmaakprodukte en -dienste.

Boete

Indien ’n verskaffer of persoon die regulasies oortree, kan ’n boete van tot R1 miljoen of 10% van die maatskappy se jaarlikse omset of tot 12 maande tronkstraf opgelê word, waarsku die kommissie.

Me. Thezi Mabuza, waarnemende verbruikerskommissaris, sê artikel 40 en 48 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008) verbied ’n verskaffer om pryse gewetenloos te verhoog.

Verbruikers word aangemoedig om die mark te monitor en enige onregverdige prysverhogings van hierdie goedere en dienste by die kommissie aan te meld.

Hulpverlening

Intussen het die DA ’n beroep op me. Bongiwe Sithole-Moloi, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, gedoen om ’n plan ter tafel te lê van hoe haar departement kommersiële en kommunale boere gaan help om hul bedrywighede te herbou en voedselproduksie te herstel.

Mnr. Martin Meyer, DA-woordvoerder vir landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, sê met baie plase wat gebrand het, vee wat gesteel is en die plundering van landboubesighede wat insette verskaf, is dit baie moeilik vir boere om na volle produksie terug te keer.

“Sommige boere kan tans nie hul produkte verkoop nie weens beperkte vervoer. Bystand moet aan hulle verleen word om kosvoorraad by ons dorpe en stede te kry waar dit dringend benodig word.”

Meyer het benadruk die hulp wat die staat verleen, moet regverdig en op gelyke grondslag wees sodat alle boere in die provinsie wat verliese gely het, gehelp kan word.