Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê die groot styging in die brandstofprys gaan veral op die graanbedryf – ’n groot verbruiker van diesel – ’n groot invloed hê.

“Benewens die regstreekse nadelige invloed op produksiekoste, is daar natuurlik die onregstreekse invloed op vervoerkoste van produksiemiddele na die plaas en produkte na markte.

“Ek raai boere aan om aan die begin van die produksietyd hul dieselkoste te verskans, hetsy om vooraf te bestel – maar dan loop die boer die risiko dat die prys kan daal – of om afgeleide instrumente te koop om pryse te verskans.”

Maree sê sulke moontlikhede bestaan, maar word nog nie algemeen in die landbou benut nie.

Kunsmispryse

Die stygende oliepryse gaan ongelukkig ook kunsmispryse laat styg omdat laasgenoemde ’n neweproduk is.

“Boere moet ingeligte besluite neem. Wanneer hulle groot hoeveelhede aankoop, moet hulle natuurlik met die verskaffer arm druk om afslag, maar vir kleiner boere is dit moeiliker.

“In húl geval is samewerking noodsaaklik. Daar is verskeie voorbeelde van suksesvolle koopgroepe in die land. Boere behoort dié moontlikhede te ondersoek.

“Tesame met lae mieliepryse, wat waarskynlik vir die volgende jaar of twee laag gaan bly, plaas hoë kunsmispryse verdere druk op ’n boer se winsgewendheid.”

Maree sê stygings in die brandstofkoste het ’n inflasionêre invloed op die ekonomie. “Die Reserwebank sal nie skroom om op te tree deur die rentekoers te verhoog as die inflasieverwagtinge buite sy teikenband van 3% tot 6% beweeg nie.”

Inflasie is nog onder beheer, maar Maree sê die opwaartse druk is klaar weens die styging in die brandstofprys die afgelope paar maande te bespeur.

Die rentekoers, oftewel rentekoste, speel gewoonlik ook ’n groot rol in ’n boer se begroting omdat boere baie geld leen. “Ons het definitief die einde van rentekoersdalings gesien,” sê Maree.

Hy verwag dat die rentekoers die res van die jaar dieselfde kan bly en, na gelang van gebeure, moontlik middel volgende jaar kan begin styg. “Ek raai boere aan om ingeligte toekomsbesluite te neem. Indien moontlik, moet hulle nou soveel moontlik skuld delg.”

Hou die Landbouweekblad dop vir nog nuus hieroor. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.