Die amptelike opposisie, die DA, sê Mboweni móét die land se onmiddellike fiskale krisis aanpak. Dit sluit in die onbeperkte uitbreiding van openbare skuld, die skerp daling in belastinginkomste weens ’n ekonomiese groeikoers wat bykans nul is, die opgeblaasde loonrekening van die staatsdiens en die voortdurende reddingsboeie wat aan staatsentiteite gegooi word.

Mnr. Geordin Hill-Lewis, die DA se skaduminister van finansies, sê as hierdie kwessies nie beduidend verander nie, sal die land sy enigste oorblywende kredietgradering verloor en sal hy nie ’n solvensieskok kan ontduik nie.

Die DA stel ’n fiskale verantwoordelikheidswetsontwerp voor wat die bedrag beperk wat die regering kan leen. Dit sal verseker dat die skuldvlakke en dienstekoste vir skuld onder beheer bly, sê Hill-Lewis.

Hy stel ook voor dat daar ’n noodkorting gebied moet word aan huishoudings as aansporing om sonpanele by hul huise te installeer en só die energielas van Eskom ligter te maak.

Om die land se begroting te stabiliseer word aanbeveel dat die besteding met R250 miljard oor die volgende drie jaar verminder word. Dit kan vermag word as die regering ag slaan op versoeke dat die loonrekening gesny moet word en dat reddingsboeie aan die staatsinstellings stopgesit word.

Versigtig optimisties

Die IVP is versigtig optimisties dat Mboweni ’n begrotingsrede sal lewer wat sekerheid aan Suid-Afrikaners sal bied. 

Die IVP noem drie sleutelingrypings om ekonomiese geregtigheid te laat geskied.

Die een is ware ekonomiese transformasie deur die potensiaal van klein-, mikro- en mediumgroot ondernemings te steun en die nodige hulp vir groei te bied. Die party sê dit is van deurslaggewende belang dat Mboweni die sleutelstappe moet doen om die gevolge van klimaatsverandering en die erge droogte – wat die landbou raak – te versag. Die stappe moet duidelik wys hoe die bestaans- en kommersiële boere gehelp en ondersteun gaan word om voedselsekerheid vir die land te verseker, sê mnr. Mzamo Buthelezi, ondervoorsitter van die IVP en woordvoerder van finansies.

Rakende belasting word verwag dat Mboweni sal verduidelik hoe die invordering van inkomstebelasting uitgebrei sal word deur maatreëls te bied om die informele ekonomie te formaliseer. Die onwettige tabakbedryf, wat die staat van miljarde rande se belasting beroof, moet ook eens en vir altyd stopgesit word.

Die ander ingryping wat nodig is, is die gedeeltelike privatisering van staatsinstellings. Die IVP glo daar is geen ander manier as om die staat se beheer oor die instellings uit te faseer nie. “Daar moenie aan privatisering as ’n vloekwoord gedink word nie.” Privatisering moet ingefaseer word op ’n goed deurdagte manier wat gebalanseerd en markvriendelik is. Daar moet ruimte gelaat word vir ingryping deur die regering wanneer nodig.

Die derde ingryping is daadwerklike stappe om wanadministrasie, korrupsie, vrugtelose en verkwistende uitgawes stop te sit om vertroue, integriteit en geregtigheid te herstel om nie net beleggersvertroue nie, maar ook die vertroue van die publiek terug te wen.