Met die stof wat klaarblyklik gaan lê het in die omgewing van Ceres en die Witzenberg-vallei, pak verslae wyn- en vrugteboere nou die onbegonne taak aan om die skade te bepaal wat deur stakers aangerig is.

Mnr. Gys du Toit, besturende direkteur van die Du Toit-groep, sê dit is nog veels te vroeg om presies te bepaal wat die skade is, maar wat duidelik is, is dat die skade groot is.

Volgens skattings is sowat 40 000 kratte in die vallei afgebrand en sewe trekkers het in die slag gebly. Du Toit sê dit wil voorkom asof betogers hulle op die groter boere toegespits het. Hy sien dit as ’n duidelike teken dat die betogings polities is.

Groot teleurstelling
“Ek kan nie vir jou beskryf hoe dit voel om so iets te beleef nie. Die Regering het hopeloos misluk in sy basiese pligte om boere te beskerm,” sê Du Toit.

Die Du Toit-groep se minimum loon aan werkers is 16,9% hoer as die die Regering se vasgestelde minimum loon.
“Die Regering het ’n plig om dié krisis nou op te los. Geen belegger gaan in die Suid-Afrikaanse landbou belê in so ’n situasie nie. Die boere se hande is afgekap en ons moet nou op die Regering staatmaak om sy plig te doen,” sê Du Toit.

Hy sê ook dat die meeste van hul werkers graag wou kom werk het tydens die stakings, maar dat hulle deur stakers gedreig is om dit nie te doen nie. Sake is vandag (Donderdag, 15 November 2012) rustig in die Koue-Bokkeveld, berig Landbouweekblad-verslaggewer Johan van der Merwe. Die meeste heeltydse werkers het teruggekeer werk toe en gaan aan met hul take.

Kyk hier na 'n video waar polisielede betogers met rubberkoeëls onder beheer hou.