’n Video is by die onderskeie werkgroepvergaderings met Graan SA se jaarlikse kongres op Nampopark buite Bothaville vertoon. Roberts sê daarin dat sy verslag moontlik teen middel April beskikbaar sal wees. Hy het vroeër vanjaar op uitnodiging van die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) die land besoek om onder meer van Graan SA se streekvergaderings by te woon om inligting van graanboere in verskillende bedrywe en verskillende streke in die land te verkry.

Volgens Roberts is die fundamentele spanning ten opsigte van die JSE se graantermynmarkte die baie groot gebiede waarbinne verskillende kommoditeite van verskillende waardes gelewer word, en dat die koste by leweringspunte verskil. Hy sê een van die groot strydpunte wat aangepak moet word, is of die mark sal verkies dat enige silo ’n geregistreerde Safex-leweringsilo kan wees en of daar net 10 of 15 leweringsilo’s moet wees wat die differensiaalstelsel beperk.

Nog ’n kwessie waaraan Roberts in sy verslag aandag sal gee, is waar die verwysingspunt vir die differensiaal moet wees en hoe dit bepaal moet word. Hy sal ook uitbrei oor die stand van die kontantmark. 

Nie ’n besluit van Graan SA

Dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA, het gesê boere moet onthou dat Roberts se verslag deur Graan SA oorweeg en met al die belanghebbendes bespreek sal word voordat besluite geneem word. “Onthou, sy voorstelle is nie ’n besluit van Graan SA nie.”

Hy het aan boere van die organisasie se wintergraanwerkgroep gesê daar moet onder meer besluit word of hul gemaklik is met minder Safex-leweringsilo’s. “En is ons gemaklik met ’n differensiaal wat fundamenteel anders bepaal word? Dit is die vrae wat ons moet beantwoord.

“Ons moet onthou, die kwessie hier is as ’n Safex-leweringsilo wegval, kan die fisiese mark se prys val en dan kan jy nie daar teen Safexprys lewer nie.” Strydom het gesê as net spesifieke silo’s leweringsilo’s is, kan dit ook tot gevolg hê dat ’n boer verder moet ry om sy produk teen Safexprys te kan lewer.

Strydom het die mandate wat vroeër aan Graan SA gegee is ten opsigte van die differensiaal weer aan lede herhaal sodat dit herbevestig kon word.

Die eerste mandaat van Graan SA se lede is dat die differensiaal moet wegval. Tweedens, indien dit nie kan wegval nie, moet gekyk word na ’n ander verwysingspunt as Randfontein vir die bepaling van die liggingsdifferensiaal en derdens moet pogings aangewend word om die mark meer deursigtig te maak.

In dié verband kyk Graan SA se ekonomiespan na ’n teoretiese model om die koste van lewering by alle silo’s saam te stel sodat ’n boer kan besluit watter opsie vir hom beter is. Toegang tot alle silo’s se inligting bied egter groot probleme, aangesien nie alle silo’s hul inligting wil beskikbaar stel nie. “Ons sal egter deurlopend probeer om die mark deursigtig te kry sodat die kontantmark beter kan werk.”

Mnr. Andries Theron, voorsitter van die werkgroep, het gesê hy verwag nie wonderwerke van Roberts se verslag nie. “Vir ons om te kan vorentoe gaan, moet ons konsentreer op dit wat ons as boere kan beheer, soos om die beste tegnologie tot ons beskikking te gebruik en om teen die beste pryse te probeer produseer.”

Die terugvoer wat die onderskeie werkgroepe oor Roberts se video gegee het, sal aan hom deurgegee word sodat hy dit vir sy verslag in ag kan neem.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.