Sowat 1 500 vragmotorbestuurders het teen 7 Julie aan die staking deelgeneem uit protes teen die indiensneming van buitelandse vragmotorsbestuurders. Plaaslike vragmotorbestuurders meen dat buitelanders hul werksgeleenthede steel. Verslae is reeds ontvang van vragmotors wat aan die brand gesteek, en buitelandse vragmotorbestuurders wat aangerand is.

Impak op insette

Mnr. Corne Louw, senior ekonoom by Graan SA, sê die staking kan ’n groot ontwrigting vir die landbou veroorsaak as dit daartoe lei dat dieselvoorrade geknou word.

“Ons het pas die goeie nuus ontvang dat die Transnet-brandstofpyplyn, wat brandstof vanaf die kus na die Suid-Afrikaanse binneland moet vervoer, weer op dreef gekom het nadat grootskaalse vandalisme tot dieseltekorte gelei het. Toe begin die staking. Dit kan dinge moeilik maak vir boere wat reeds met baie lae dieselvlakke op hul plase sit, omdat die diesel vanaf groothandelaars na kleinhandelaars en van daar na boere alles per vragmotor vervoer moet word.”

Louw meen die staking kan ook ’n invloed hê op die vervoer van grane vanaf silo’s na meulens en van daar weer na verspreiders toe. “Die hele bedryf steun eintlik baie swaar op padvervoer, veral as insette, produksie, invoer, uitvoer en die verspreiding van produkte in ag geneem word. Die staking is dus glad nie goeie nuus vir die landbou nie.”

Ook sitrus ly onder vervoerstaking

Vir sitrusprodusente kon die staking nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Mnr. Mitchell Brooke, logistieke ontwikkelingsbestuurder van die Sitruskwekersvereniging (SKV), sê die bedryf bevind hom tans in die middel van sy plukseisoen, maar weens die staking kan boere nie hul produkte van die pakhuise op hul plase na die verkoelingseenhede by die hawens stuur nie. “Vragmotorbestuurders vrees dat daar teen hulle opgetree gaan word as hulle sitrusprodukte vervoer, wat beteken dat vragte nie hawe toe geneem word nie.”

Brooke sê die SKV oorweeg ’n aantal opsies om produsente te help om hul produkte by die hawe te kry.

“Die organisasie ondersoek die moontlikheid om ’n private sekuriteitsmaatskappy te kontrakteer om vragmotors wat sitrus vervoer, te beskerm. ’n Ander moontlikheid is om produsente in Limpopo te help om spoorvervoer te gebruik.”

Brooke sê hawens, wat vragmotors met skeepsvraghouers gebruik, loop ook onder die staking deur, wat die doeltreffendheid belemmer. “Vir sitrusprodusente is dit uiters frustrerend, want vanjaar se oeste is werklik uitstekend. Ons mikpunt was vanjaar om rondom 140 miljoen kartonhouers sitrus uit te voer, maar gegewe die Covid-19-pandemie en nou die staking gaan dit ’n wonderwerk wees as dit gebeur.”

Regering kyk na nuwe regulasies

Mnr. Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, sê die regering ondersoek nuwe regulasies om die indiensneming van buitelanders in Suid-Afrika te beperk.

“Dit sal nie net op die vervoersektor van toepassing wees nie, maar ook op ander bedrywe wat groot getalle buitelandse werkers in diens neem, insluitende die gasvryheidsbedryf, restaurante, sekuriteitsondernemings en die landbou,” het Nxesi in ’n onderhoud met eNCA gesê.