Hy sê die landelike beveiligingsplan word nie doeltreffend in die Vrystaat toegepas nie en boere is eindelik op hulself aangewese. “Die toename in plaasaanvalle in die Vrystaat oor die afgelope paar maande dui op ’n krisis en dat die regering misluk met landelike beveiliging.”

Hy sê die provinsiale regering het ook versuim om aansoek te doen om die droogtehulpfinansiering wat bewillig is, wat verder getuig van die regering se ongeërgdheid teenoor boere en dat boere nie op staatshulp staat kan maak nie.

“Die VF Plus veroordeel die vlaag plaasaanvalle wat die afgelope tyd in die provinsie kop uitsteek, en die barbaarse wyse waarop hierdie aanvalle gepleeg word. Die skielike toename in aanvalle in die Vrystaat en die wreedheid wat daarmee gepaardgaan, moet as dade van terreur beskou en veroordeel word.”

Hy sê die stryd wat Suid-Afrika se boere teen die elemente voer, veral weens die voortslepende droogte, is reeds ’n wesenlike stryd om oorlewing. Daar kan nie van hulle verwag word om boonop ’n oorlewingstryd teen misdaad te voer nie.

“Dit is ’n skande dat boere en hul naasbestaandes in vrees moet leef weens die onmenslike wyse waarop boere en hul gesinne gejag word. Niemand verdien dit om deur die hel te gaan van trauma, pyn en die dood van ’n plaasmoord nie.

“Die VF Plus sal nie ophou met sy stryd teen plaasaanvalle en -moorde nie, en eis dat die Vrystaatse regering verantwoording doen vir sy nalatigheid rakende droogtehulp en moedig boere aan om selfstandig te staan waar die regering misluk om sy pligte betreffende boere se veiligheid na te kom.”

Vrystaat Landbou (VL) is ook besorg oor die toename in plaasaanvalle wat die afgelope week in die Vrystaat voorgekom het, en dat ouer boere die teiken van die aanvalle was.

Mnr. Tommie Esterhuyse, ondervoorsitter van VL, meen dit is onaanvaarbaar dat boere en hul werkers wat gedurende die Covid-19-inperking kos aan die land lewer, onderwerp word aan sulke barbaarse optrede.

“Boere is in ’n toenemende mate besig om binne die reg hulself te beskerm, soos wat die afgelope week in meer as een geval gebeur het. Hierdie optrede word genoodsaak deur die regering se versuim om sy burgers te beskerm teen misdadige elemente wat dikwels uit buurlande kom.”

VL doen ’n beroep op boere wat vuurwapens vir selfverdediging het, om hul gereedheidsvlakke op te skerp sodat hulle hulself en hul gesinne kan beskerm.

Mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, doen ’n beroep op boere om by ’n landelike beveiligingsplan in hul onderskeie areas in te skakel, om seker te maak dat die plan bygewerk is, dat sektorleiers en lede van reaksiegroepe opgelei is ten einde misdaadtonele te benader en te bewaar, en om slagoffers van bystand te voorsien.

“Waar plaaswagte bestaan, word hulle versoek om skietoefeninge te reël wat voldoen aan Covid-19-regulasies.”