La Niña-verskynsels word gewoonlik verbind met bogemiddelde reën in April en Mei oor die somerreënstreek.

“Baie min reën word verwag vir ten minste die volgende paar weke oor die noordelike, noordoostelike en westelike dele van Suid-Afrika. Ligte reën is wel moontlik rondom 27 en 28 April oor veral die sentrale tot suidoostelike dele,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Die situasie is veral ongunstig vir reënval in die droë suidelike dele van die Noord- en Oos-Kaap. “Tradisioneel brei reënvaltoestande tydens ’n La Niña-seisoen in die laatsomer wes- en suidooswaarts uit, maar dit lyk of daardie kraan nou toegedraai is,” sê Van den Berg. “Daar is wel ’n skrale moontlikheid dat winterreënval verder noord as die winterreënstreek kan uitbrei gedurende die winter, veral rondom Julie, om reën in dié gebiede te veroorsaak.”

Van den Berg sê vroeë aanduidings is dat ’n La Niña-verskynsel weer in die 2021-’22-seisoen verwag kan word, wat die moontlikheid skep vir goeie somerreën.

Winterreën

Weermodelle dui tans nie baie reën gedurende Mei oor die winterreënstreek aan nie, maar gunstiger toestande word in Junie verwag met gereelde koue fronte. “Histories het die Wes-Kaap oor die algemeen gunstige reënvaltoestande in die winter ervaar nadat ’n La Niña-stelsel voorgekom het,” sê Van der Berg.

Tydens die afgelope 10 matige tot sterk La Niña-verskynsels het die distrikte Hopefield in die Suidwes-Kaap en Bredasdorp in die Overberg bogemiddelde reënval aangeteken vir die tydperk van Mei tot September. Slegs in 2000 en in 2011 het daar effens ondergemiddelde reënval voorgekom vanaf Mei tot September.

Van den Berg sê die distrik Hopefield het tydens drie van die 10 seisoene bogemiddelde reën in Mei gehad, terwyl Bredasdorp gedurende agt van die jare in Julie bogemiddelde reën aangeteken het. Daar is nie ander sterk neigings oor watter betrokke maande hoeveel reën gemeet is nie.

Wat die winterreëngebied betref, lyk toestande dus redelik gunstig as die reënvalgeskiedenis van La Niña-seisoene met mekaar vergelyk word.

Eerste ryp

Hoewel ligte ryp teen middel April by onder meer Fauresmith en Jacobsdal in die Suid-Vrystaat, by Aliwal-Noord en Molteno in die Oos-Kaap en Standerton in Mpumalanga voorgekom het, was toestande nog nie koud genoeg vir grootskaalse rypskade nie. Met somergewasse wat oor die algemeen ver gevorder is in die seisoen, is daar ook beperkte gewasse wat rypskade kan kry. “Daar is wel nog plek-plek sonneblomme wat ten minste twee tot drie weke se rypvrye toestande moet kry om volwassenheid te bereik,” sê Van den Berg.

Tipiese herfsweer met warm dae en koeler nagte word in die komende weke verwag. Frontale stelsels kan rondom 24 en 25 April asook 4 en 5 Mei weer ’n daling in temperature veroorsaak. “Baie lae temperature is egter eers moontlik vanaf einde Mei. Die patroon lyk tans baie dieselfde as in 2020 toe temperature betreklik hoog gebly het tot einde Mei, voordat dit baie skerp gedaal het en die res van die winter baie koud was,” sê Van den Berg.