Dís wat Vinpro op 5 Februarie by die Wes-Kaapse Hooggeregshof gaan pleit in ‘n stap om die wynbedryf, wat R8 miljard se inkomste en sowat 27 000 werkgeleenthede asook produsente verloor het, te probeer red.

Die bedryf word sedert die aanvanklike inperking in Maart nou al bykans 19 weke lank nie toegelaat om binnelands handel te dryf nie.

Volgens mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, gaan hulle aanvanklik versoek dat die verbod in die Wes-Kaap, waar die oorgrote meerderheid wynplase gesetel is, ter syde gestel word. Daarna kan dieselfde versoek ook vir ander provinsies gerig word. 

“Vinpro werk steeds saam met ander alkoholinstansies, asook met die regering om die bedryf se volhoubaarheid te verseker, maar gegewe die verwoestende impak wat die derde verbod op die wynbedryf het, het Vinpro geen ander keuse as om die Kaapse Hooggeregshof nou te nader nie,” sê Basson.

Vinpro sal die hofsaak finansier.

Vinpro meen ‘n meer buigsame, vinniger benadering is nodig, gebaseer op geloofwaardige empirisiese data.

“Die provinsiale uitvoerende gesag moet bemagtig word om die verkoop van drank gedurende die res van die pandemietydperk te hanteer,” sê die organisasie in ‘n verklaring.

Drankverkope, sowel as gesondheidsorg en provinsiale hospitale, word gewoonlik deur provinsiale owerhede hanteer. Vinpro glo dus provinsiale regerings is beter toegerus om die “fyn balans” tussen lewens en lewensmiddele te bestuur. Die pandemie raak nie alle provinsies te alle tye op dieselfde wyse nie, maar die regering tref nie onderskeid tussen die provinsies wat die instelling of opheffing van die verbod betref nie.

Vinpro meen ‘n drankverbod is onregverdig wanneer hospitale en trauma-eenhede nie onder druk is nie.

“Ons is egter van mening dat nie net die verkeerde regeringsvlak met die kleinhandelverkope van drank tydens die nasionale ramptoestand te doen gehad het nie, maar ook dat die regering 'n landwye verbod gebruik het wat onnodig, ongegrond, onregverdig en inderdaad teenproduktief is.”

Hulle hoop die dringende tussentydse regshulp gaan beteken dat mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse premier, die mag sal kry om met onmiddellike effek van die drankverbod te kan afwyk in die Wes-Kaap.

“Vinpro is verlig dat die aantal nuwe infeksies, aktiewe gevalle en opnames in hospitale nou landwyd, maar veral in die Wes-Kaap, vinnig daal. In hierdie omstandighede is die drankverbod in die Wes-Kaap eenvoudig nie meer geregverdig nie.”

Vinpro meen die bedryf het die afgelope jaar sy kant gebring om oplossings te help vind vir die Covid-19-pandemie. Hy het met die regering saamgewerk en betyds opgetree om voorkomende maatreëls van plaasvlak tot kleinhandel in te stel, planne gemaak om die ekonomie oop te maak en sosiale probleme rondom alkoholmisbruik hok te slaan.

Ondanks hierdie pogings is hul aanbevelings vir ‘n risiko-aangepaste benadering nie in ag geneem toe pres. Cyril Ramaphosa die drankverbod vir ‘n derde keer op 28 Desember ingestel het nie. Daar was ook geen tydlyn vir die hersiening van dié verbod nie, wat beplanning en gebeurlikheidsplanne onmoontlik maak. 

Die wynbedryf is een van die oudste landboubedrywe in die land. Benewens inkomste van sowat R55 miljard, neem die bedryf ook ongeveer 269 000 mense in diens. Die bedryf se beeld is ook ‘n groot bate vir Suid-Afrika.

Vanjaar se parstyd het pas afgeskop. Daar is egter steeds meer as 640 miljoen liter wynvoorraad in die kelders, waarvan 300 miljoen liter nog nie kopers het nie. Stoor- en verwerkingskapasiteit gaan dus een van die bedryf se grootste kopsere wees in die komende maande.