Mnr. Gerhard Kriel, uitvoerende hoof van die organisasie, nooi almal om op Sondag 27 September aanlyn by die nagmaaluitsending aan te sluit. Die tema van die diens is dankbaarheid.

“Dit is so ’n voorreg om in die landboubedryf betrokke te kan wees en nog ’n groter voorreg om van die landbou afhanklik te wees, met ander woorde die voorreg om kos te kan hê,” sê hy. “Elke ete by jou huis, skool of restaurant of met vakansie word deur produsente verskaf. Wat ’n voorreg om mense hiermee te kan dien.”

’n Paar Vriende van die Landbou sal tydens die uitsending ’n kort getuienis lewer, onder meer mnre. Chris Venter (voormalige uitvoerende hoof van Afgri), Jannie de Villiers (uitvoerende hoof van Graan SA), dr. Japie van der Westhuizen (hoofbestuurder van SA Stamboek), me. Rita Andreas (burgemeesterskomiteelid van Drakenstein), mnr. Andries Radley (VKB), mev. Anso Steyn (boervrou van Verkeerdevlei) en mnr. Theunis Pretorius (van die MD Foundation, Ficksburg).

Die lofsang volg vanuit die Oase-gemeente in Klerksdorp waarna die nagmaalbediening deur dr. Pieter van Jaarsveld van die NG Kerk, Bothaville, volg.

Die diens kan van 11:00 gevolg word op die skakel van Vriende van Landbou se Facebookblad of DigiTV by die skakel digitv.co.za/my-org/#/business/events/67. Navrae kan aan Kriel gerig word by info@vriendevanlandbou.com of 082 050 1444.