Die platform, Agrohub, is ’n uitvloeisel van onder meer Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad wat in Augustus dié jaar op Bela-Bela in Limpopo plaasgevind het.

Meer as 60 boere het hul stories oor projekte wat werk, planne wat hulle voorstel of probleme wat hulle reeds ondervind en te bowe gekom het, tydens die tweedaagse beraad gedeel.

Agrohub sal dien as ’n gekonsolideerde platform wat ’n netwerk van rolspelers in die bedryf, van supermarkgroepe tot individuele boere en projekte, met mekaar verbind.

“Ons is besig om die platform op te bou sodat dit ’n prospektus van ontwikkelingsgeleenthede in die landbou kan vorm wat Agri SA aan pres. Cyril Ramaphosa kan oorhandig,” sê mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Verder sal die platform georganiseerde landbou ook in staat stel om aan Ramaphosa en die Regering ’n “gekonsolideerde prentjie” te gee van die transformasie wat reeds in die landbou plaasvind asook watter projekte reeds op dreef is. “Oor die langtermyn sal dit ons ook help om ’n ondernemingshulpbron-beplanningstrategie saam te stel, en om ’n elektroniese platform daar te stel waarvolgens die verskeie rolspelers oor verskillende vlakke heen met mekaar besigheid kan doen,” sê Van Zyl.

Die inligting wat deur middel van die platform ingesamel word, sal ook gebruik word om die voorgestelde landbou-ontwikkelingsfonds se model saam te stel. Van Zyl dien op die taakspan wat getaak is om die moontlikhede van so fonds te ondersoek. “Dit sal basies gebaseer wees op die beginsel van die ou landboukredietraad in terme van grond, finansiering, waarborge en rente.”

Enige een wat graag sy onderneming of gemeenskap se suksesstorie op die platform wil publiseer, word uitgenooi om meer inligting op die webwerf te deel. Besoek https://agrohub.co.za/ om jou storie te deel of meer oor die platform te lees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.