Mense wat hom geken het, beskryf Jan-Linde as ‘n buitengewone sakeman wat ‘n versiende benadering gehad het oor die omgewing en die mense wat dit bewoon en bewerk. 

Sy loopbaan het oor langer as ses dekades gestrek en in daardie tyd het die familie-onderneming werk en vaste gesinstrukture aan duisende mense verseker. Hy het in 1993 die Dutoit-groep saam met sy ouer broer, Gys, gestig wat vandag 20 vrugteplase besit en bedryf. Bykans 2 miljoen mense eet daagliks vrugte wat die groep produseer.

Sedert 1993 het die Dutoit-groep deurlopend gegroei en uitgebrei met die oprigting van werkershuise, verwerkingsaanlegte, produksie- en bemarkingsgeriewe, en beleggings in sekondêre landbou asook internasionale vennootskappe.

Vier van sy seuns is deel van die bestuurspan by die Dutoit Groep.

Mnr. Pieter du Toit sr., besturende direkteur van die groep wat in 1982 saam met sy pa, Gys, en Jan-Linde begin werk het, het aan Landbouweekblad gesê dit is ‘n groot boom wat geval het. Hy sê sy oom het ‘n wonderlike persoonlikheid gehad en almal om hom se lewens verryk met optimistiese en vernuwende denke.

“Hy kon ingewikkelde saketransaksies deurvoer en probleme vroegtydig voorsien en oplos. Hy het ook hard gewerk om ‘n doelwit te bereik.”

Hy beskryf hom as iemand wat deeglike besluite kon neem, filosofiese standpunte kon formuleer en dit tot met sy dood toegepas het. “Boonop het hy ‘n visionêre sienswyse van en gevoel vir die groter prentjie gehad, hy kon ‘n debat in goeie gees laat vloei en hy het ander se standpunt begryp en hy was bereid om dit te laat inpas as dit die geheel prentjie sou bevoordeel.”

Jan-Linde het ook die landbou en vrugtebedryf op verskeie liggame verteenwoordig. In 1987 het Landbouskrywers SA hom aangewys as die Boer van die Jaar en in 1990 het hy die OHS-Reynecke medalje as leier in die bedryf van die sagtevrugtebedryf en die LNR ontvang.

Jan-Linde laat sy vrou, Cathrine, en seuns, Deon, Conrad, Gysbert, Linde en Hennie, met hul gades en 16 kleinkinders agter.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.