Die organisasie sê in ’n verklaring dat hy met teleurstelling kennis geneem het van Ramaphosa se uitsprake oor dié kwessie die afgelope tyd.

“Vrystaat Landbou het gehoop dat hy meer rasioneel en deurdag sal wees met sy uitsprake, maar, soos sy voorganger, pres. Jacob Zuma, maak hy uitsprake en beloftes sonder om die gevolge, die uitvoerbaarheid daarvan en die skade wat dit die land kan berokken, in ag te neem,” sê mnr. Francois Wilken, voorsitter van die organisasie.

Wilken sê ten spyte van uitsprake deur die Grondwethof die afgelope tyd waarin leiers en selfs die Parlement oor die kole gehaal is omdat hulle nie die Grondwet, wat Ramaphose gehelp skryf het, eerbiedig nie, maak Ramaphosa uitsprake wat strydig is met die Grondwet. 

ANC het self EFF-mosie verwerp

Die ANC se besluit oor onteiening sonder vergoeding volg nadat die party die mosie oor onteiening sonder vergoeding wat verlede jaar deur die EFF in die Parlement voorgestel is, verwerp het.

Wilken sê Vrystaat Landbou vra dat Ramaphosa meer duidelikheid gee oor hoe grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind sonder om voedselsekerheid, ekonomiese groei en werkverskaffing nadelig te raak?

Wilken sê hulle bly verbind tot die Grondwet as die basis van enige vorm van grondhervorming en onderhandeling. “Die landbou was nog altyd ten gunste van grondhervorming wat ordelik en ekonomies volhoubaar binne die riglyne van die Grondwet plaasvind.”

As onteiening sonder vergoeding buite die raamwerk van die Grondwet plaasvind, sal die organisasie volgens Wilken ál die middele tot sy beskikking gebruik om eiendomsreg te beskerm.