“Probleme by die Lesotho-grens, wat brandstigting, misdaad en die gevaar van die verspreiding van aanmeldbare siektes weens onvoldoende polisiëring (mannekrag, voertuie, ondersoekkapasiteit en skutte) insluit, is ook uitgelig," lui ’n verklaring wat VL ná die ontmoeting uitgereik het.

“Die skokkende toestand en instandhouding van landelike paaie en die sluiting van landelike lisensiërings- en toetsstasies was ook op die agenda, asook die bedreiging van die goedkeuring vir gas- en mynprospektering en die departement se wanfunksionele kantore in klein dorpe.”

Mnr. Francois Wilken, voorsitter van VL, sê sy boodskap aan Bulwane en sy afvaardiging was dat verantwoordbaarheid deurslaggewend sal wees vir ’n verhouding tussen VL en Bulwane se department.

“As ons dit nie gaan regstel nie, kan ons maar net sowel huis toe gaan,” het hy op die vergadering gesê wat op 5 September 2019 tussen lede van VL se uitvoerende bestuur en die department gehou is.

Memorandum

Daar is op dié vergadering ooreengekom om ’n memorandum van verstandhouding op te stel om ’n werksverhouding tussen VL en die department te struktureer.

Mnr. Tommie Esterhuyse, ondervoorsitter van VL, het beklemtoon dat wedersydse vertroue nodig is om doeltreffend te vorder en dat die department se leiers deur hul voorbeeld moet lei. “Dan kan ons op die gunstige aspekte konsentreer om die sektor in die toekoms te inspireer.”

Wilken het VL se standpunt oor die private besit van grond benadruk en gesê opkomende boere word teruggehou deurdat volle titelaktes nie via gesubsidieerde bankkrediet aan nuwe toetreders tot die landbou gegee word nie.

Hy het die departement van landbou se veeartsenydienste en die weermag geprys vir die voorkoming van die verspreiding van miltsiekte vanaf Lesotho na Suid-Afrika. Die nasionale departement van landbou is gekritiseer oor die hantering van die uitbreking van bek-en-klouseer, wat Suid-Afrika miljarde rande aan uitvoerinkomste gekos het.

Bulwane se pleidooi aan landbouers

Bulwane het plaasmoorde en alle vorme van landelike misdaad veroordeel. Hy het gesê hy sal spesifieke departementele kwessies na die regte partye en Lesotho-eweknieë herlei en het voorgestel dat die groepe oor twee maande weer vergader om die vordering te evalueer.

Hy het VL versoek om saam te werk om die bruto binnelandse produk van die provinsie te verhoog en erken dat landbou die enigste sektor is wat die ekonomie kan laat groei en meer werk kan skep. Bulwane het Vrystaatse boere gevra om hul vaardighede en kennis oor te dra en nuwe toetreders tot die landbou te help om hul voete te vind en toegang tot markte te kry om volhoubare, ekonomies lewensvatbare landbou-eenhede te bedryf.

VL,
Van links is, agter: mnr. Tommie Esterhuyse, ondervoorsitter van VL, en dr. Tankisi Masiteng, hoof van die departement van landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat; voor: mnre. William Bulwane, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat, en Francois Wilken, voorsitter van VL. Foto: Vrystaat Landbou

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.