Meyer sê die geïntegreerde gesondheidsreaksieplan wat die plaaslike regering omtrent ’n maand gelede in Witzenberg en die Kaapse Wynland ingestel het, het daarin geslaag om die tempo waarteen Covid-19 in die area versprei te vertraag.

Volgens Meyer is daar tans 252 positiewe gevalle van Covid-19 in Witzenberg. Die herstelkoers was op 30 Mei 80% (203 gevalle). “Ons maak vordering, maar ons moet hou by die gesondheids- en veiligheidsprotokolle wat ons in Witzenberg en die groter Kaapse Wynland ingestel het.”

Gedurende die afgelope maand het die Wes-Kaapse regering met die samewerking van die Witzenberg-munisipaliteit en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om die verspreiding van Covid-19 in hierdie gebiede te vertraag, onder meer die toets van personeel by plaaslike besighede en die oprig van primêre gesondheidsorggeriewe.

Kwarantyn- en isolasiegeriewe is in Drakenstein, Stellenbosch, Breedevallei, Langeberg en Witzenberg ingerig. Boere en plaaswerkers kan gesondheidsorg by die mobiele kliniek van die Kaapse Wynland ontvang.

Streng beheer

Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het spanne gestuur om minibustaxi’s te ontsmet en die Witzenberg-munisipaliteit het begin met die ontsmetting van openbare areas in Ceres. Deur middel van padblokkades pas wetstoepassers in Witzenberg streng beheer toe oor wie almal die munisipale area binnekom of verlaat.

Meyer sê sy departement het met die samewerking van die landbousektor 35 000 gesigmaskers na plaaswerkers versprei. “Die landbousektor skenk landbouprodukte om te verseker dat niemand in die area honger ly nie. Die Wes-Kaapse regering het R800 000 vir kos en humanitêre verligting in Witzenberg toegewys.”

Meyer sê soos die ekonomie weer oopgemaak word, word die verantwoordelikheid om die inperkingsregulasies te gehoorsaam al hoe groter. “Ek moedig almal aan om hulself te beskerm. Ons sal die situasie monitor en doen ’n beroep op besighede en die gemeenskappe in die Kaapse Wynland om die maatreëls toe te pas ten einde Covid-19-gevalle by hul persele te bestuur en vermy.”