Die forum se standpunt het tot groot ontevredenheid by lede van Agri Oos-Kaap en boere in die provinsie gelei. Hulle sê inspeksieverslae van die nasionale departement van landbou en die provinsiale departement toon dat voldoen word aan die vereistes wat nodig is om die diere te vervoer.

Die tydelike interdik is deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) teen Al Mawashi, ’n Oos-Londense lewendehawe-uitvoermaatskappy, bekom. Al Mawashi het op 24 Junie ’n aansoek ingedien om die interdik ter syde te stel en aan te pas. Hoewel uitspraak tot Dinsdag 30 Junie voorbehou is, sê die bedryfsforum se regspan Al Mawashi kon geen bewyse voorlê dat voldoen word aan die minimum standaarde wat in riglyne van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) uiteengesit word nie. Die hofsaak word op 16 Julie aangehoor.

Mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die forum, sê in ’n verklaring die forum en sy lede ondersteun die handel van lewende hawe en vervoer per skip mits dit eties en sonder dieremishandeling gedoen word. “Plaaslike wetgewing, asook die beginsels en riglyne soos uiteengesit deur die OIE, moet in die afwesigheid van Suid-Afrikaanse riglyne die uitvoer van lewende hawe geld.”

Hy sê Agri SA, Agri Oos-Kaap, die Nasionale Wolkwekersvereniging, die SA Voerkraalvereniging, die SA Varkvleisprodusente-organisasie, die Rooivleisprodusente-organisasie en die Rooivleisbedryfsforum wil dit kategories duidelik maak dat skepe wat betrokke is by die uitvoer van lewende hawe, al die prosedures en riglyne binne die OIE-standaard sal moet volg en aan die voorwaardes sal moet voldoen soos wat deur die regering gesertifiseer word.

“Die Rooivleisbedryfsforum en sy lede wil dit duidelik maak dat dieregesondheid van uiterste belang is en dat ’n standaard gehandhaaf moet word om uit te voer. Handel is uiters belangrik, maar onderhewig aan ’n standaard wat deur die regering afgedwing moet word.”

R400 000 per dag verloor

Agri Oos-Kaap kap egter terug op hierdie verklaring en sê hoewel hy die kwellinge van die bedryfsforum begryp, bied die forum nie ’n bevredigende verklaring oor hoekom hy die DBV steun en gekant is teen die verskeping van die skape nie.

Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap sê die vertraging weens die DBV se aansoek kos die uitvoerders sowat R400 000 per dag. “Hierdie verliese is nie volhoubaar nie en kan veroorsaak dat Al Mawashi hom aan Suid-Afrika onttrek.”

Hy sê verteenwoordigers van Agri Oos-Kaap het die voerkraal besoek en by ’n vorige geleentheid die laaiery van die diere geïnspekteer. Hy het bevind dat alles baie profesioneel gedoen is. Die forum is ook genooi om die voerkraal te besoek, maar die aanbod is nie aanvaar nie. “Dieresorg is van groot belang vir Agri Oos-Kaap en ons sal nie mishandeling duld nie. Daar was egter geen teken daarvan nie.”

Mnr. Andrew Bennett, ’n boer in die omgewing, sê produsente beskou die forum se houding as ’n rugstekery. “Dit is ons eie organisasie wat ons ledegeld gebruik om teen ons te baklei op grond van besluite wat mense in kantore in Pretoria neem.”   

Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-vereniging (RPO), sê die kwessie is eenvoudig: Lewende hawe kan per skip vervoer word mits aan die minimum standaarde voldoen word soos deur die OIE voorgeskryf.

“Ons glo daar is nie in die hof bewys dat die skip wat uit Oos-Londen moet vertrek, aan hierdie vereistes voldoen nie. As daaraan voldoen word, sal ons die handel ondersteun. Dit is vir ons as ’n bedryf en die RPO noodsaaklik dat niemand ’n vinger na ons kan wys nie en dat ons die verbruiker en die verbruiker se persepsie gunstig hou jeens ons bedryf.”