Vergeleke met speenkalfpryse in die ooreenstemmende week verlede jaar is dié prys wel byna 16% hoër, volgens FNB se jongste vleisprys-verslag. Klas A-beesvleispryse het in die week ná Paasnaweek op ’n weekgrondslag met 3,2% tot R46,79/kg gedaal, terwyl dié prys op ’n jaargrondslag effens laer is. Die prys van klas C het effens gedaal teenoor die vorige week tot R41,48 per kg, maar dié prys is 11% hoër in vergeleke met die ooreenstemmende week verlede jaar.

Die prys van klas A-lam was weekliks 1,7% laer op R69,99/kg. Op ’n jaargrondslag is dit 9% hoër. Skaapvleispryse het ook in die week ná Paasnaweek tot R53,47/kg gedaal – 3% laer as net ná Paasnaweek, maar 16% hoër op ’n jaargrondslag. Die verwagting is dat bees- en skaapvleispryse in die kort tot mediumtermyn sywaarts gaan beweeg.

'n Realistiese prys

Mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, sê ’n speenkalfprys van rondom R30/kg lewende gewig is ’n “realistiese prys vir oorlewing binne die totale waardeketting.” Die prys vir speenkalwers het verlede jaar met 104% gestyg en in ’n stadium op R40-R42/kg lewende gewig gedraai.

Die styging is deur ’n verskeidenheid van faktore gedryf, waarvan die feit dat boere vee moes terughou weens die droogte om weer hul kuddes op te bou, een faktor was.

Volgens mnr. Dawie Maree, ekonoom by FNB, is die daling in die speenkalfprys ook deels toe te skryf aan ’n groter aantal speenkalwers in die mark. “Dit is nou speentyd op talle plase. Sommige boere is ook besig met voorbereidings en beplanning vir die winter om seker te maak dat hulle deur die winter al die vee op hul plase sal kan voer. Sommige boerderye kan ook moontlik kontantvloeidruk ervaar en gevolglik meer diere verkoop om daardie druk te probeer stabiliseer.”

Hy meen die daling in die vebruikersprysindeks van vleispryse is ’n aanduiding dat vleispryse sywaarts gaan beweeg. Die verbuikersprysindeks vir vleis was 18% verlede November, terwyl dit in Februarie tot 11,4% gedaal het.

“Ons verwag ook nie skerp dalings nie,” aldus Maree.

Die varkvleisprys

Volgens die verslag het pryse vir varkvleis met sowat 20% gedaal ná die aankondiging oor listeriose vroeg in Maart. Mnr. Aaron Motsoaledi, Minister van Gesondheid, se raad was dat verbruikers verwerkte vleis liefs vermy. Tans word verwag dat die prys van varkvleis nie laer as R20/kg sal daal nie.

Die aantal varke wat in die laaste week van Maart geslag is, het met 33% teenoor die vorige week gestyg. Altesame 275 793 varke is vanjaar al geslag – 7% minder as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.