Boere het groot skade gely met die oorstromings in 2011 waarvan die skade op R1,3 miljard bereken is. Wetlike voorskrifte het tot gevolg gehad dat die departement boere nie vir die skade vergoed het nie, en die vloedwalleprojek is begin om die skade te herstel. Pres. Jacob Zuma het destyds aangekondig dat R800 miljoen toegewys is om die skade te herstel.

Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê in die eerste jaar van die projek het die departement R282 miljoen ontvang. In die eerste jaar is R190 miljoen bestee en in die daaropvolgende jaar R124 miljoen.

’n Dekade later is die vloedwalle nog nie herstel nie.

Wat reeds gedoen is

Altesaam R950 miljoen is bestee om 325 km vloedwalle te bou. ’n Verdere 70 km moet nog gebou word om die projek te voltooi, wat na raming R180 miljoen sal kos. ’n Deel van die geld wat nodig is, sluit in R32 miljoen vir werk wat reeds voltooi is.

Van der Rheede sê die geld moet dringend bekom word, want die stelsel is afhanklik van soliede walle om toekomstige oorstromings te bestuur. Die voltooide walle loop gevaar om deur oorstromings beskadig te word. Die water wat deur gapings vloei, sal agter die walle opdam en ’n oorstroming vererger.

Die Noord-Kaap het die afgelope paar jaar die ergste droogte in 100 jaar beleef. Droogtes word gebreek deur swaar reënval wat oorstromings meebring. Wetenskaplikes glo die einde van ’n droë klimaatsiklus is in sig en oorstromings is moontlik. Daarom moet die gapings toegebou word.