Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie, het op ’n Old Mutual-beraad oor volhoubaarheid in die landbou gesê die VN het besef dat 10 boere wat elk op 200 ha produseer, werk aan bykans dubbel soveel mense verskaf as een boer wat op 2 000 ha boer.

“Daarom bemoei die VN hom al sedert 2012 met die kwessie. Hy het toe reeds universiteite op al die vastelande gevra om navorsing oor die gevolge te doen. Navorsers was dit eens dat daar nie net probeer moet word om verstedeliking te keer nie, maar ook om die proses om te keer aangesien familieboerdery die dryfkrag agter landelike ekonomieë is en die bestaansreg van kleiner dorpe verseker.” 

Hy het gesê net meer as ’n dekade gelede het die draaipunt al gekom waarin meer as die helfte van die wêreld se mense in stede woon. Sedert sowat sewe jaar gelede is daar ook in Suid-Afrika meer mense in stedelike as landelike gebiede. Die VN het 2014 as die jaar vir familieboerdery verklaar en selfs sover gegaan om in 2019 met ’n dekade van familieboerderye te begin.

De Jager het gesê wêreldwyd is daar al hoe meer organisasies wat die welstand van familieboerdery boaan hul agenda plaas. Dit was ook die rede vir die ontstaan in Suid-Afrika van die netwerkorganisasie vir familie-boere (Saai), waarvan hy die voorsitter is.

Hy het gesê die mikpunt met hierdie dekade van familieboerdery is deels daarop gemik om internasionale hulpbronne op só ’n wyse te kanaliseer dat ’n lewensbestaan in landelike gebiede ’n alternatief tot stedelike verblyf kan bly. “Daar word probeer om jong mense aan te spoor om die landbou as beroep te kies. Om dit reg te kry moet boerdery, as ’n besigheid, egter volhoubaar en winsgewend wees. As ’n boerdery nie ’n besigheid is nie, word dit ’n welsynsgeval en ons land, streek en vasteland is vol voorbeelde hiervan. Sonder wins kan ’n boerdery nie bestaan nie.”

Volgens hom gaan winsgewendheid ook gepaard met mededingendheid, nie net plaaslik nie, maar internasionaal. As Brasilië hoendervleis goedkoper kan produseer en hierheen vervoer as waarvoor Suid-Afrika dit self kan produseer, sal die meeste verbruikers daardie produk kies.

De Jager het gesê om ’n familieboerdery se oorlewing en voortbestaan te verseker hang af van vooruitbeplanning. Dit gebeur nie vanself nie. “Daar moet vroeg in ’n familieboerdery met deeglik beplanning begin word wanneer daar nog min besluitnemers is. Beplanning behels ook om kundiges te betrek wat leiding kan gee.”

Oor die invloed van Covid-19 op familieboerderye het hy gesê daar is hernude belangstelling in gesonde plaasprodukte en daar is ’n hegter band tussen produsent en verbruiker. Hoewel bedrywe soos die wynbedryf weens die inperking baie seer gekry het, was daar internasionaal ’n ontploffing in boeremarkte. “In Italië is daar byvoorbeeld ’n ‘eenmyl-veldtog’ wat daarop gemik is dat produkte nie verder as ’n myl van die plaas af na die markte versprei word nie waar verbruikers aangemoedig word om direk by die boer te koop.”