Die graan- en oliesaadbedryf maak ’n baie belangrike deel van die voedselprysindeks uit. Meer as 70% van die indeks is van graan en oliesaad afhanklik. Dit is geen geheim dat die Suid-Afrikaanse ekonomie tans nie bevredigend groei nie, en al hoe meer druk word op die verbruiker se besteebare inkomste geplaas.

Dieselfde geld graanprodusente weens groot voorrade en baie lae pariteitspryse, en dit plaas produsente se winsgewendheid onder druk. Saam met die voortslepende droogte is finansiële risiko’s hoog en kontantvloeiscenario’s nie baie gunstig nie. Die vraag wat dikwels ontstaan, is of die verbruiker die laer pryse in stapelvoedsel benut en of die voordeel aan die verbruiker deurgegee word.

Om dit te beantwoord, word na twee aspekte gekyk. Eerstens: Het die verwerking van die kommoditeite verhoog en het die produksie van voedselprodukte gestyg? Tweedens kan die prys van voedselprodukte deur middel van ’n indeksprys vergelyk word. Sodoende evalueer ’n mens die primêre verbruiker asook die eindverbruiker, meer bekend as die huisvrou.

Die pryse van Suid-Afrikaanse graan en oliesaad het gedaal tot soortgelyke pryse as tien jaar gelede. Grafiek 1 en grafiek 2 is ’n aanduiding van wat die pryse tans is teenoor invoer- en uitvoerpariteit. Volgens die beginsels van vraag en aanbod beteken dit outomaties dat die verbruik weens die laer pryse styg. Daar is gekyk na hoe die 2018-kalenderjaar gevaar het wat die verbruik van mielies grafiek 3 , sojabone grafiek 4 en sonneblomme grafiek 5 betref.

Mielies DIE grootste groei

Die jaar 2018 het ’n rekordmielieverbruik teenoor die vorige vyf jaar behaal. Die totale verbruik het met 5% gestyg teenoor 2017, en 881 191 ton is per maand verwerk. Die grootste groei was in die dierlike verbruikafdeling wat groei van 7% getoon het, met ’n verwerking van 451 853 ton per maand.

Wat die verbruik van mielieprodukte soos mieliekiem, stampmielies en mieliemeel betref, het 2018 rekordvlakke bereik. Die totale produksie van die produkte het met 4% teenoor 2017 gestyg, en 436 929 ton is maandeliks geproduseer (grafiek 6).

Een van die grootste produkte op die rak is mieliemeel, waarvan 248 595 ton per maand geproduseer word. Die grootste groei was by supermieliemeel, wat op ’n jaargrondslag met 14% gestyg het volgens syfers van die SA Graaninligtingsdiens (Sagis). In 2018 is 2,7 miljoen ton supermieliemeel geproduseer. Die hoër verbruik kan toegeskryf word aan die middelklasverbruiker wat moontlik ’n laer besteebare inkomste het en dus meer stapelvoedsel benut.

OliesaAD: Rekord ondanks PROBLEME

Die sojaboonmark het in 2018 hoë eindvoorraadvlakke vir die bemarkingseisoen verwag. Ten spyte van kwessies binne die verwerkingsmark, soos perse wat weens onderhoud gestaan het, arbeidsprobleme en beurtkrag, is ’n rekord in 2018 behaal.

Volgens Sagis was daar in die 2018-kalenderjaar ’n styging van 29% in die maandelikse verwerking. Die maandelikse gemiddelde was 105 510 ton. Die sojaboonverbruik vir dierlike voeding (volvetsojabone) het op ’n jaargrondslag met 59% gestyg tot ’n gemiddelde maandelikse verbruik van 17 327 ton. Terselfdertyd het die verwerking vir olie en oliekoek met 25% gestyg.

Die goeie verwerkings- en verbruiksyfers het die druk op die sojabooneindvoorraadvlakke verlaag. Indien dit in die nuwe seisoen volgehou word, kan dit die sojaboonmark ondersteun, maar dit sal afhang van persmarges en staantyd binne perse.

Wat sonneblomsaad betref, het die verbruik in 2018 op ’n jaargrondslag met 9% gestyg en is gemiddeld 78 012 ton per maand verwerk. Verwerking vir olie en oliekoek het van 2017 tot 2018 met 10% gestyg. Dit is goeie nuus vir die plaaslike markte dat die invoer van oliesaadprodukte met 22% afgeneem het vergeleke met 2017.

Volgens Sagis-syfers is 1 034 219 ton oliesaadprodukte in 2017 ingevoer, en dit het tot 810 957 ton in 2018 gedaal. Dié produkte sluit in die verskillende soorte oliesaadkoek, olie en verwerkte produkte soos grondboontjiebotter. Die grootste bydraers tot die daling was sojaboonolie (51%), katoen- saadolie (38%), sojaboon/kanola-oliekoek (22%) en palmolie (15%).

Pryse: Moeilik vergelykBARE som

Wat pryse betref, is die vraag of die laer kommoditeitspryse in die prys op die winkelrak weerspieël word. Dit is altyd moeilik om ’n direkte vergelyking te tref, omdat die kommoditeitsprys slegs ’n deel van die produksiekoste uitmaak. Energiekoste, soos elektrisiteit en die dieselprys, speel ook ’n belangrike rol. Normaalweg maak die kommoditeitsprys van mielies 50% van die winkelprys uit. Vir koring is dit nader aan 20%.

Die tydsduur is ook ’n faktor, en dikwels blyk dit dat laer pryse eers later aan die verbruiker deurgegee word. Dit is dus belangrik om prysneigings op korter termyn te evalueer en seker te maak dat dit wel gevolg word.

As die indeksprys van witmielies volgens Statistieke SA met mieliemeelprodukte vergelyk word, blyk dit dat die neigings in dieselfde rigting plaasvind, en dat daar wel ’n korrelasie tussen die twee pryse is (grafiek 7). Die plaaslike rekordverbruiksyfers op die graan- en oliesaadmark is verblydend en dit ondersteun die plaaslike ekonomie.

Die vestiging van uitvoermarkte is gunstig, veral wat die verwydering van oordragvoorraad betref, en moet altyd ’n mikpunt en doelwit bly. Die styging in plaaslike verbruik is egter gunstiger vir die hele waardeketting en die plaaslike ekonomie. Dit is ’n teken dat verbruikers plaaslike produsente ondersteun, en dit is ’n neiging wat hopelik in die toekoms sal voortduur. 

Dr. Dirk Strydom is Graan SA se bestuurder van graanekonomie en bemarking.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.