“Een van die grootste uitdagings om voedselsekuriteit in Suid-Afrika te verseker is ‘n tekort aan kundigheid en opvoeding oor die kwessie”, sê mnr. John Purchase, voorsitter van die Landboubesigheidskamer (LBK). Hy sê dié twee faktore speel ook ‘n groot rol in boere se vermoë om suksesvol te produseer.


 Die LBK en die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (Nepad) se Sakestigting (NBF) het ‘n vergadering in Pretoria gehou waartydens die bevordering van betrokkenheid van landbou-ondernemings en regerings in Afrika by voedselsekuriteit bespreek is.


Wat is voedselsekerheid?

“Voedselsekuriteit het ‘n baie belangrike kwalifikasie wat nie misverstaan moet word nie. Vir enige land om voedselsekerheid te hê moet almal in die land toegang tot kos hê. Dit beteken nie net dat daar genoeg voedsel in die land moet wees nie, maar dat almal dit moet kan bekostig en so toegang daartoe kan hê. Dit is nog ‘n groot uitdaging in die land, huishoudelike voedselsekerheid,” sê Purchase.


Hy meen daar moet nog baie gedoen word om voedselsekerheid in Suid-Afrika, asook wêreldwyd, te bewerkstellig. Hy sê volgens voorspellings moet kosproduksie teen 2030 met 50% vermeerder en teen 2050 verdubbel om voedselsekerheid wêreldwyd te verseker.


Klimaatsverandering se uitwerking

Purchase sê die korrekte bestuur van kwessies rondom klimaatsverandering gaan ook ‘n groot rol in voedselsekerheid speel. “Omgewingskwessies rondom die klimaat, en veral waterprobleme en –tekorte, gaan reg bestuur moet word in dié hele proses. En daar is nog nie genoeg data om dit suksesvol te kan doen nie.”.


Hy meen dat veral meer navorsing oor aanpassing en voorkoming rakende aardverwarming nodig is.


26 April 2010