Me. Sandy La Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê die opname se bevindinge stel hulle saam met Agri SA in staat om hulp toe te wys aan die gebiede in die provinsie wat dit die nodigste het. “Dit stel ons ook in staat om belangrike handelsroetes te identifiseer wat heropen moet word om produksie en die lewering van kos te bewerkstellig asook die landbouwaardeketting te beveilig.”

Die opname het verder bevind dat 64% van dorpe reeds erge voedseltekorte beleef met 32% van dorpe wat matige voedseltekorte beleef. Slegs 4% van die dorpe is tans seker van ’n voedselvoorraad.

La Marque sê die sluiting van die N3, KwaZulu-Natal se primêre poort vir die beweging van produkte, het ’n katastrofiese uitwerking op boere, landboubesighede, kleinhandelaars en die hele landbouwaardeketting gehad. Sy noem, byvoorbeeld, dat 25% van Suid-Afrika se melk uit KwaZulu-Natal kom.

Die sluiting van verskeie verspreidingsentrums vir verpakking, voer, komposopberging en die brandstoftekort is volgens haar ’n groot terugslag vir die provinsie se ekonomie.

“Die plundering en onluste het nie net in groot stede en dorpe voorgekom nie, maar ook in kleiner gemeenskappe in KwaZulu-Natal. Dit kon erger gewees het as boere en gemeenskappe nie saamgestaan het om dit wat van hul dorpe oorgebly het, te beskerm nie. Ons is baie dankbaar teenoor almal wat daarby betrokke was.”

Hoewel brandstigting in KwaZulu-Natal steeds voortduur en daar in die naweek van 17-18 Julie verdere skade aan oeste was, is die plundering en vernietiging van eiendom in die provinsie besig om af te neem, sê La Marque.

La Marque sê Kwanalu sal paraat bly en moedig sy lede aan om dieselfde te doen. “Die landbousektor kan nie die ekonomiese skok absorbeer wat die afgelope tyd se onluste veroorsaak het nie, aangesien die sektor reeds, en steeds, deur die Covid-19-pandemie geraak word.”

Sy sê dit is nou van uiterste belang om handelsroetes, hawens, verspreidingsentrums en raffinaderye te beskerm sodat hulle nie weer toegemaak moet word nie. “Net die tyd sal leer hoe lank dit sal duur om bedrywighede in die voorsieningsketting te herstel. Die handhawing van produksievlakke deur sigbare polisiëring en die weermag is noodsaaklik. Dit sal verseker dat die voorsienings- en waardeketting vroeër eerder as later doeltreffend kan funksioneer.”