Die derde uitbreking is die tweede geval op ’n braaihoenderteelplaas, terwyl die ander uitbreking op ’n lêhoenderplaas aangemeld is.

“Ons kondig met spyt die tweede uitbreking van HPAI op ’n braaihoenderteelplaas aan die Oos-Rand aan. Die plaas is onder kwarantyn geplaas en die voëls word uitgeskot en onder toesig van die departement van landbou, grondsake en landelike hervorming verwyder,” sê die SAPV in sy verklaring.

Volgens mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die SAPV, word nog op die uitslag van toetse gewag om die tipe virus te bepaal. Daar kan egter met sekerheid gesê word dat dit die hoogs aansteeklike voëlgriep is wat tans ook in Europa aangetref word.

’n Uitbreking van die H5N1-voëlgriep, ’n HPAI-tipe, is die eerste keer middel April op 'n lêhoenderplaas aan die Oos-Rand in Gauteng aangemeld. Die tweede uitbreking van HPAI is op ’n braaihoenderteelplaas in Noordwes aangemeld.

Volgens die SAPV is die derde uitbreking soortgelyk aan die eerste uitbreking op die lêhoenderplaas. Dit sal nie ’n wesenlike uitwerking hê op die huidige handelsbeperkinge wat buurlande reeds ingestel het nie.

“Die uitwerking op die deurlopende aanbod van braaihoendervleis is minimaal. Verbruikers word daarvan verseker dat braaihoendervleis en eiers veilig is om te eet, mits die regte kookprotokolle gevolg word met temperature wat hoër as 60 °C bereik.”

Die SAPV het in ’n vroeëre verklaring gesê Suid-Afrika se pluimvee- en volstruisbedryf is tans op ’n hoë gereedheidsgrondslag, met streng biosekerheidmaatreëls wat ingestel is.

Eienaars van enige voëls as troeteldiere, wat pluimvee insluit, word aangeraai om waaksaam te wees en enige tekens van siekte by die voëls by ’n veearts aan te meld. Voëlgriep word ook deur die lug versprei en besmetting vind nie net deur kontak plaas nie.