Met verskeie handelskwessies wat vir die land kan opduik én die moontlikheid dat die hoogs aansteeklike pluimveevirus dalk kan muteer en mense besmet, is die eerste prys om van die H5N8-virus ontslae te raak.

Tans verbied Suid-Afrika die invoer van hoenders van lande waar voëlgriep voorkom. Indien hy sou voortgaan met inenting, beteken dit dat die land sy deur oopmaak vir invoere uit daardie lande. Dr. Lesley van Helden, staatsveearts in die Wes-Kaap, verduidelik dat heelwat handelskwessies by inenting opduik.

“Wanneer jy inent verander die siektestatus van jou land en kan meebring dat ander lande wat nie voorheen na Suid-Afrika toe uitgevoer het nie, dit dan sal kan doen. Handelsversperrings kan ook geskep word vir die lande waarheen Suid-Afrika se produsente uitvoer.”

Inenting ingewikkeld

Die pluimveebedryf het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gevra om die moontlikheid van inenting te oorweeg. Teen druktyd was daar nog nie ’n besluit of die land sal inent of nie.

Van Helden verduidelik die roete van inenting is baie ingewikkeld. Net soos in die geval van inenting teen griep by mense, verhoed dit nie dat jy griep sal kry nie, maar die simptome van die griep is net minder ernstig. So ook sal inenting nie beteken dat pluimvee nie die voëlgriepvirus sal kry nie. Die simptome sal net minder ernstig wees, wat beteken minder voëls sal weens die virus vrek.

“Inenting is iets wat mense sal oorweeg as as die siekte reeds endemies tot die land is. Wanneer dit reeds oral versprei het en daar geen kans is om dit te beheer nie of geen kans is om daarvan ontslae te raak nie.” Die siekte is nog nie endemies tot Suid-Afrika nie.

“Wat ons nou moet doen is om te probeer om die siekte heeltemal uit te wis en dan hoef ons nie na inenting te kyk nie. Sommige lande het die inentingsroete, wat gepaard gegaan het met die uitslagting van die behandelde voëls, gevolg.”

Siende dat dit die eerste keer in die land se geskiedenis is dat die H5N8-virus in die pluimveebedryf voorkom, is daar geen vorige ondervinding om in te span nie. Mpumalanga, Gauteng, die Wes-Kaap, Noordwes en Kwazulu-Natal is deur die virus getref en streng kwarantynmaatreëls is ingestel by die 25 uitbrekings wat strek van kommersiële hoenderplase, volstruisplase, werfhoenders, asook wilde voëls en troeteldier-voëls.

Dooie volstruise

Intussen het daar vir die eerste keer vrektes onder volstruise voorgekom waar die virus naby Oudsthoorn in die Wes-Kaap bespeur is. Altesaam 27 plase is hier onder kwarantyn geplaas, asook19 plase in die Heidelberg-omgewing.

Van Helden verduidelik dat die vrektes onder volstruise kon voorkom by die voëls wat ander probleme onderlede gehad het. Volstruise, wat groter en sterker as hoenders is, vrek nie sommer van die H5N8-virus nie. Geen vrektes het teen druktyd by die volstruise in die Heidelberg-omgewing voorgekom nie.

Intussen wag geraakte pluimveeboere vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om inligting rakende vergoeding bekend te maak. Mnr. Jacob Hlatshwayo, hoof van finansies by die departement, het by die Parlement aangedui dat daar R65 mijloen is om rampe te versag. Daar is reeds met die Tesourie gepraat om die begroting hiervoor te verhoog.