In die ergste geval moes sowat 240 000 henne van ’n kommersiële lêhoenderplaas naby Ekurhuleni aan die Oos-Rand van kant gemaak word. Die vervangingswaarde van die henne is sowat R2 miljoen.

Mnr. Colin Steenhuisen, tussentydse hoofbestuurder van die eierorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, sê dié uitbreking is op 11 April aangemeld toe sowat 300 hoenders gevrek het.

Volgens Steenhuisen is ’n tweede geval van voëlgriep in Gauteng bevestig, maar die besonderhede is nog nie bekend gemaak nie.

Luidens ’n verklaring van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het monsters van die eerste geval positief vir die H5-stam van voëlgriep getoets. Gevolglik is alle voëls in die hokke wat geraak is, onmiddellik van kant gemaak.

Volgens Steenhuisen het Onderstepoort se toetse bevestig dat dit die hoogs aansteeklike (HPAI) voëlgriep is, maar die N-tipe van die virus moet nog bepaal word.

Die Gautengse veeartsenyowerheid het die plaas onder kwarantyn geplaas.

Die jongste uitbreking van voëlgriep sal na verwagting nie ’n tekort aan eiers en hoendervleis meebring nie. “Dit is nog te vroeg om dit te bevestig, maar die 240 000 hoenders wat tot dusver van kant gemaak is, is minder as 1% van die huidige nasionale hoenderbevolking van sowat 27 miljoen,” sê Steenhuisen.

’n Uitbreking van die H5N8-stam, ’n hoogs aansteeklike voëlgriep, is in 2017 op verskeie plase aangemeld. Toe moes sowat 4,7 miljoen hoenders, of sowat 20% van die destydse nasionale hoenderbevolking, van kant gemaak word.