Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het vroeër vandeesweek gesê hulle staan verbaas oor die “ongelooflike ommekeer” wat die goeie reëns teweeg gebring het met dié dam wat slegs weke gelede minder as 10% water ingehad het. “Dié dam, een van die grootstes in die provinsie, is vol en die sluise moes die afgelope naweek oopgemaak word.” 

“Een naweek se goeie reën by Ceres, Citrusdal en Wolseley, en daardie potjie is vol,” is hoe mnr. Gideon van Zyl van die plaas Wilgenhof by Vredendal die ommekeer by die Clanwilliamdam beskryf. 

As een van die boere in die benede-Olifantsrivierbesproeiingsgebied wat die afgelope seisoen met net 1 700 m3/ha van hul inlysting van 12 200 m3/ha wyndruif- en rosyntjie-oeste moes probeer deurhaal, is hy verwonderd oor hoe vinnig hul situasie verander het. “As die dam teen Oktober en November nog vol is, is ons reg tot volgende winter.” 

Water is vandeesweek losgelaat vir besproeiing én die rivier het tot in sy wingerde opgestoot sodat hy dit eers November weer hoef te besproei. 

Hy sê ongelukkig het water gelykstaande aan “ ’n hele ekstra dam” weggeloop omdat die Clanwilliamdam se wal nog nie hoër gemaak is nie. 

Hoewel hulle nog vir 18 maande halwe of kwart tjeks gaan kry as gevolg van vanjaar se klein oes, is hul gemoedere ligter en behoort oeste in die nuwe jaar beter te wees. “Ek dink ons oeste kan baie na aan normaal wees as die wingerdstokke hierdie jaar wat hulle so swaar gekry het, beskou as rus en nie as straf nie,” sê hy met ’n glimlag.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.