“Toegang tot ons markte en die vertroue wat die verbruiker in ons produk het, bepaal die volhoubaarheid van varsproduk-bedrywe.” Só meen dr. Gerhard Verdoorn, toksikoloog  van die Griffon-gifinligtingsentrum. “Dink aan al die moontlike gevolge wat jou aksies op die plaas, verder af in die waardeketting kan hê,” was die boodskap van Verdoorn aan die meer as 580 afgevaardigdes by die agste CRI Sitrus-navorsingsimposium wat deur CRI in KwaZulu-Natal aangebied is.

“As die regte spuittoerusting, aanbevole dosisse, aanvaarbare spuittoestande en die geregistreerde produkte nie streng gevolg word nie, dan verander ons ’n waardevolle oesbeskerming-produk in ’n gifstof. As die Jan Publiek my konfronteer, dan beaam ek dat ons nie gifstowwe in die landbousektor verkoop nie. Indien die produsent nie die regte ding volgens die die etiketgriglyne doen nie, gaan die bedryf die vertroue van die verbruiker prysgee. Iewers gaan die mark en veral die internasionale mark met sy streng regulasies en gesofistikeerde toets-protokol, weens residu-oorskryding of ontoelaatbare chemiese stowwe, nie meer Suid-Afrikaanse vrugte aanvaar nie,” waarsku Verdoorn.

Prof. Vaughan Hatting van CRI beaam hierdie sentiment. “Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf is hoogs afhanklik van die uitvoer en is daarom uiters kwesbaar vir die verlies van uitvoermarkte. Die sitrusbedryf in Suider-Afrika is tans vry van verskeie potensiële verwoestende siektes wat bedrywe in ander wêrelddele teister. Dit beteken dat talle potensiële bio-sekuriteitrisiko’s die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf  in die gesig staar en dus die risiko loop om uitvoermarkte te verloor,” verduidelik Hatting.

Uit Hatting se aanbieding was dit duidelik dat bio-sekuriteit ’n ál groter rol speel in marktoegang en dit op sy beurt weer kardinaal is vir die volhoubaarheid van die bedryf. Alle bio-sekuriteit-argumente kan egter nie met wetenskaplike feite gewen word nie. Swartvlek is ’n goeie voorbeeld hiervan en versterk net die argument vir wetenskaplik bepaalde pesbestryding- en biosekuriteit-strategieë.

Volgens dr. Paul Fourie van CRI is die geveg teen die klassifisering van die sitrus-swartvlek as ’n A1-kwarantynpatogeen, ’n voortslepende een met stadige, maar seker vordering te danke aan sterk argumente deur internasionale kenners met goeie wetenskaplike bewyse as ’n rugsteun.