Mnr. Piet Kleyn, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAOBC), sê volstruisvleis mag nie na die EU uitgevoer word nie hoewel Suid-Afrika ’n nasionale plan vir die beheer van chemiese residu het. Die plan is onderhewig aan jaarlikse goedkeuring deur die EU.

Tydens die laaste oudit deur die EU is erge tekortkominge in die toepassing van die beheerprogram gevind, wat die betroubaarheid van die residustatus onder verdenking gebring het.

Winsgewendheid en volhoubaarheid

Suid-Afrika is derhalwe van 1 Maart af nie meer op die EU se lys van lande wat goedgekeurde planne het om residu te monitor vir spesifiek intensiewe en ekstensiewe wild nie. Dit het meegebring dat Suid-Afrika nie meer volstruis-, krokodil- of wildsvleis na die EU kan uitvoer nie.

’n Verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis is reeds sedert Junie verlede jaar van krag.

Kleyn sê die volstruisbedryf se winsgewendheid en volhoubaarheid is onder erge druk en alles moontlik word gedoen om Suid-Afrika terug op die lys van lande wat goedkeuring vir uitvoer na die EU het, te kry.

"Indien volstruisvleis nie uitgevoer kan word nie, is daar nie voldoende winsgewendheid vir die betrokkenes in die bedryf nie. Ons spook hard saam met die departement sodat Suid-Afrika weer op die lys kan kom,” sê Kleyn.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe – teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.