Die Mededingingskommissie het in Desember 2018 Klein Karoo International (KKI) en Mosstrich se aansoek om saam te smelt, afgekeur, onder meer omdat die twee saam sowat 90% van die bedryf verteenwoordig en dit mededinging sal verhinder.

Die twee geïntegreerde volstruismaatskappye het hulle nou tot die Mededingingstribunaal gewend om die kommissie se besluit tersyde te stel.

Adv. Gretha Engelbrecht het vroeër vandeesmaand namens die maatskappye aan ’n paneel van die tribunaal gesê dit gaan nie goed met die volstruisbedryf nie, veral omdat vars volstruisvleis weens voëlgriep nie na Europa uitgevoer kan word nie, maar ook weens die droogte.

Plaaslik oorskry die aanbod van volstruisvleis die vraag en plaaslike volstruispryse is baie laer as wat op die internasionale mark behaal kan word.

“Die oorhoofse uitwerking (van die omstandighede) is ’n laer opbrengs op belegging en dus ’n kleiner aansporing om met volstruise te boer, sodat boere die mark verlaat,” het sy gesê.

Die getal volstruisboere het van meer as 400 voor 2011 tot sowat 200 in 2018 gekrimp.

In die 2002-’03-slagseisoen is meer as 300 000 volstruise geslag, maar in die jongste slagjaar slegs sowat 123 000.

Dit bring mee dat slagplase, leerlooierye en vereverwerkingsgeriewe nie ten volle benut word nie.

Die twee maatskappye sê as hulle kan saamsmelt, kan hulle hul bemarkingspogings internasionaal saamvoeg, pleks van om internasionaal met mekaar mee te ding, en hoop om dan só beter pryse vir leer en vleis te kry.

’n Samesmelting sal volgens hulle werkgeleenthede op volstruisplase en by verwerkingsgeriewe behou, en kan tot die skep van nuwe werkgeleenthede in ’n gebied met min werkgeleenthede lei.

Slegte siklus

Mnr. Romeo Kariga het namens die Mededingingskommissie aangevoer dat die bedryf tans bloot in ’n slegte siklus is, iets wat in die toekoms weer kan gebeur en nie deur ’n samesmelting voorkom kan word nie.

Die kommissie vrees dat die samesmelting die plaaslike prys vir volstruisvleis sal laat styg, veral as vars vleis weer na Europa uitgevoer kan word, en dat dit in die vereverwerkingsbedryf tot die uitsluiting van kleiner ondernemings kan lei.

Engelbrecht het egter benadruk dat die doel van die samesmelting hoër buitelandse pryse is, en nie hoër plaaslike pryse nie. Volstruisvleis ding plaaslik met ander rooivleissnitte mee en hoër pryse vir volstruisvleis sal verbruikers ander vleis laat koop.

“Niemand in die samesmelting sê dat die pryse van volstruisleer vir die modehuise van Europa of die cowboy-stewelmakers in Texas sal val nie.

“Niemand voer aan dat die samesmelting tot laer pryse sal lei vir vere wat vir die Rio-karnaval of Moulin Rouge-kostuums gekoop word nie.

“Niemand sê dat die gesondheidsbewuste Duitsers wat hul volstruisfilet by Lidl koop, of die Britse klante wat hulle s’n by Tesco koop, enigiets minder gaan betaal nie.

“Dit is nie die punt van die samesmelting nie. Ook nie om plaaslike pryse op te jaag nie. Die punt is om die beste moontlike inkomste vir die boer te kry en die belange van die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf en diegene wat daarin werk, te bevorder,” het Engelbrecht gesê.

Volgens mnr. Jac Marais, van Adams & Adams, albei maatskappye se regsverteenwoordiger, kan die tribunaal se uitspraak voor einde Julie gelewer word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.