Dié waarskuwing kom van verteenwoordigers van die georganiseerde landbou nadat die Nasionale Minimumloon-kommissie op 20 November die verhoging van 1,5% bo inflasie voorgestel het. Die kommissie het terselfdertyd voorgestel dat die minimum loon vir plaaswerkers aanstaande jaar in pas gebring moet word met die nasionale minimum loon.

Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die voorstel sal beteken dat die minimum loon van plaaswerkers van R18,68/h tot R21,68/h moet verhoog. “ ’n Loonskok van dubbelsyfers moet tot elke prys vermy word. Is dit nie Suid-Afrika se eerste prioriteit om miljoene werksgeleenthede te skep en ’n beleidsomgewing bevorderlik vir werkskepping daar te stel nie?”

Hy sê die kommissie moet daarvan kennis neem dat werkloosheid die grootste rede vir armoede is. “Loonverhogings moet dus op ’n volhoubare wyse geskied. Ekonomiese omstandighede moet in ag geneem word. Die huidige voorstel deur die kommissie maak dus geen sin nie!”

Agri SA vra die fokus moet verskuif na werkskepping en stappe moet gedoen word om verdere werksverliese in alle sektore te beperk. Van der Rheede sê die ekonomie swig onder die gewig van vele faktore soos Covid-19, soewereine kredietafgradering en swak groeivooruitsigte. “Dit sal ’n gesamentlike poging deur almal verg om te herstel en ons sal verkies om ’n ingefaseerde benadering oor ’n tydperk van drie jaar te sien.”

Sinkplaatpad

Mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê daar lê reeds ’n sinkplaatpad vir die landbou in 2021 voor met kwessies soos plaasaanvalle, veediefstal, toenemende grondbesettings en diefstal van produkte. Al hierdie goed speel ’n nadelige rol en dit word net erger. “Ek weet nie hoe hierdie voorgestelde minimum loon haalbaar kan wees nie. Dit gaan beslis verdere werkloosheid beteken en al kos meganisering geld sal dit toenemend binne die landbou moet gebeur.”

Agri SA wys daarop dat volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste arbeidsmag-opname, het die werkloosheidskoers ingevolge die uitgebreide definisie van werkloosheid met 2,3 persentasiepunte tot 42% in die tweede kwartaal van 2020 toegeneem vergeleke met die eerste kwartaal van 2020.

Werksgeleenthede in die formele sektor het met 1,2 miljoen (10,8%) afgeneem, terwyl 640 000 werkgeleenthede (21,9%) in die informele sektor verlore gegaan het. Werksgeleenthede in private huishoudings het met 311 000 (23,6%) afgeneem, terwyl 66 000 (7,6%) werksgeleenthede in die landbousektor verlore gegaan het. Alle bedrywe het in die tweede kwartaal van 2020 werksverliese ervaar vergeleke met die eerste kwartaal van 2020.