Die assosiasie van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) voorspel verbruikers gaan weens die hoër tariewe sowat R4/kg meer vir hoendervleis betaal, maar die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) betwis dit. Tariewe vir stukke aan die been is van 37% tot 62% verhoog en vir ontbeende stukke van 12% tot 42%.

Mnr. Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, bestempel die tariefverhogings as “uiters kortsigtig” en sê “die enigste wenners is Suid-Afrika se reeds winsgewende pluimveeprodusente”.

Stukke aan die been het volgens hom in 2018 53% van alle invoer verteenwoordig en die hoër tariewe kan tot ’n tekort aan hoendervleis lei as uitvoerlande nie meer na Suid-Afrika wil uitvoer nie.

Brasilië, saam met wie Suid-Afrika in die Brics-groep van lande is, gaan die swaarste deur die tarief getref word.

“Boonop sal ons moet kyk hoe Amerika reageer en hoe dit Suid-Afrika se voorkeurtoegang kragtens die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) vir verskeie bedrywe gaan raak. Amerika het die tariewe heftig teengestaan en ons sal sien wat pres. Donald Trump rakende Agoa doen. Dit het implikasies vir verskeie ander Suid-Afrikaanse bedrywe het wat na Amerika uitvoer, soos die wynbedryf.”

Gelande koste

Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SAPV se braaihoenderorganisasie, sê dit is misleidend om te beweer dat verbruikerspryse weens die hoër tariewe sal styg. Die tariewe word op die gelande koste van hoendervleis gehef en beteken dus nie ’n outomatiese prysstyging in die kleinhandel nie.

’n Ondersoek deur die onderneming Genesis het verlede jaar getoon dat uitvoerlande, soos Brasilië, voorheen bloot hul uitvoerpryse verminder het om hoër tariewe teen te werk.

“Die tariefverhogings behoort te help om die gelande koste van hoendervleis uit Brasilië nader te bring aan die produksieprys van plaaslik geproduseerde hoender.”

Breitenbach sê die tariewe raak nie plaaslik geproduseerde hoendervleis nie, wat 70% van die verbruik is. Verder geld die tariewe nie alle ingevoerde snitte en hoendervleis uit alle lande nie. Hoendervleis uit Europa is vanweë ’n vryhandelsooreenkoms kwytgeskeld.

“Die tariewe is die resultaat van omvattende onderhandelinge tydens die ontwikkeling van die pluimveemeesterplan, wat baanbrekerswerk was. Dit is deur alle ondertekenaars, insluitend ministers, die bedryf, invoerders en vakbonde, bekragtig en goedgekeur.

“Alle belanghebbendes het die tariewe as ’n sleutelaspek erken. Die meesterplan het spesifiek ten doel om invoer te beperk om die plaaslike bedryf toe te laat om bestendig te raak, uit te brei en werkgeleenthede te skep.”