Dit is 15 moorde meer as wat vroeër vanjaar in die Parlement bekend gemaak is.

Mnr. Bheki Cele, Minister van Polisie, het vanoggend in die Parlement die jongste nasionale misdaadstatistiek bekend gemaak. Hy het daarop gewys dat die 62 plaasmoorde minder was as die 74 wat in die vorige boekjaar voorgekom het, terwyl moord in die algemeen toegeneem het.

Agri SA sê in ’n verklaring die organisasie veroordeel die voortgesette geweld wat die boerderygemeenskap, asook mede-Suid-Afrikaners daagliks raak, ten sterkste. “Die aantal moorde en aanvalle wat op die boerderygemeenskap gemik is, is te hoog en is onaanvaarbaar. Die publiek en die Regering moet kennis neem daarvan,” het mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid, gesê. “As meer Suid-Afrikaners en internasionale belanghebbendes druk uitoefen, sal dit lei tot beter optrede om plaasmoorde en -aanvalle te voorkom.”

Hy sê Agri SA het reeds ’n dringende versoek aan Cele gerig om dié kwessie en ander knelpunte te bespreek om oplossings vir die geweldskultuur in die boerderygebiede te vind.

Breytenbach het gesê die Agri Securitas-trustfonds het oor die afgelope jare meer as R10 miljoen tot plaasveiligheid en misdaadvoorkoming bygedra en duisende boere en plaaswerkers gehelp.

“Die Agri Securitas-trustfonds se werk deur die jare om boerderygemeenskappe te beveilig, is prysenswaardig en lewer reeds uitstekende resultate,” het Breytenbach gesê. “Alle finansiële en ander steun aan dié fonds is van kardinale belang.”